CrimeLocal newsNews

Man van eMalahleni betaal duur ná ‘aand van plesier’

eMalahleni man verloor R15 000 in afpersing skema nadat hy ’n aand met ’n dame spandeer het.

Soms, as mens die kat in die donker knyp, knyp daardie einste kat terug. Dié is so geval van wat met ’n man in eMalahleni gebeur het. Die man (45) het besluit om glo troos te gaan soek in ’n sekswerker se arms – totdat hy ’n oproep gekry het wat hom duur te staan laat kom het.

 

Die sekswerker was glo duidelik nie tevrede met hom nie.

 

Kort nadat hy huis toe is, het hy na bewering ’n oproep ontvang van ’n ‘polisiesersant’ . Die einste ‘sersant’ het hom glo gevra of hy die aand saam met ’n sekere dame spandeer het. Heel onskuldig het die man ja gesê.

 

Voor die man behoorlik kon agterkom wat aangaan, na al die plesier, word hy glo beskuldig dat hy die dame verkrag het. Die dame het hom blykbaar daarvan beskuldig dat hy haar ook met vervalste note betaal het. Geskok het die man verduidelik dat dit nie die waarheid is nie.

 

Die man het in sy verklaring aan die polisie gesê die ‘sersant’ het vir hom gesê dat die polisie gaan hom kom arresteer as hy nie onmiddellik R15 000 sal oorbetaal om die saak af te handel nie. As hy dit nie wil betaal nie, gaan hy die hele langnaweek in die tronk moet sit.

 

Hy het glo die R15 000 oorbetaal, wat seker nog die duurste is wat hy al ooit in sy lewe vir ’n paar oomblikke van plesier betaal het, en gehoop het alles is nou verby. Toe besef hy dit was alles ’n verneukspul nadat hy die polisie gebel het om uit te vind of alles nou afgehandel is.

 

Dit is toe hy besef dié kat het hom terug geknyp.

 

Polisiewoordvoerder Kaptein Eddie Hall het gewaarsku, “die polisie sal nooit ’n verdagte bel vir geld om ’n saak toe te maak nie. Hulle sal net opdaag en jou arresteer. Ons wil graag die publiek in kennis stel dat as hulle sulke oproepe ontvang vir geld, moet hulle dadelik die polisie self skakel. Weereens, die polisie sal nooit bel en vra vir geld nie.”

 

WITBANK NUUS het probeer kontak maak met die man, maar hy het sy foon afgeskakel.

 

Het jy ’n storie om te vertel?

Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490

  • Vir meer brekende- en gemeenskapsnuus, besoek gerus ons webtuiste: www.witbanknews.co.za
  • Jy kan ons ook volg op sosiale media platforms: Facebook Twitter of Instagram

 

 

 

Check Also
Close
 
Back to top button