CrimeLocal newsNews

Groen gras, lang vingers

Diewe steel deesdae alles in eMalahleni, selfs gras is op hulle inkopielys.

Almal het al die ‘gras te koop’-bordjies langs die pad gesien met blokke gras wat te koop aangebied word, maar hoeveel mense het al gewonder waar kom hierdie gras regtig vandaan – is dit moontlik gesteelde gras?

 

Op Sondag, 5 Mei het ’n ooggetuie verby ’n bekende grasbesigheid in die Naauwpoort-omgewing naby die rioolwerke gery en gesien hoe ’n onbekende wit bakkie met vier mans besig is om gras uit te haal en op ’n bakkie te laai. Die vrou en haar passasiers het toe gestop om hulle te vra wat hulle doen. Die mans het doodeenvoudig net geantwoord dat hulle gras laai.

 

Toe hulle ingelig is dat die gras aan ’n besigheid behoort en dat wat hulle doen, diefstal is, het hulle heel rustig gesê dat iemand anders vir hulle vertel het dat hulle hier gras verniet kan kom haal. Die mans het probeer maak of hulle onskuldig is en nie van beter geweet het nie, maar hierdie einste besigheid is al rot en kaal besteel, selfs die huis op die eiendom is geplunder dat net ’n murasie oorgebly het.

 

Hoe kan ’n mens maak asof jy nie weet jy steel as jy verby die grasbesigheid se naambord ry wat duidelik die eienaar se naam en nommer op het en dit boonop op private grond is en jouself net help aan hulle produk?

 

Nadat hulle aangesê is dat hulle nie die gras mag vat nie, het hulle baie vinnig die gras van die bakkie afgegooi, maar die gras is só beskadig met die afgooiery, dat dit nou nie meer bruikbaar is nie.

 

Die eienaar van die besigheid is al gedaan – diewe het nou al amper alles by hom gesteel en begin nou selfs die gras steel.

 

“Wanneer gaan dit ophou? ’n Mens kan nie meer so aangaan nie. Alles is al gesteel wat gesteel kon word,” het die eienaar moedeloos gesê.

 

Het jy ’n storie om te vertel?

Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of skakel ons op 013 656 2490

  • Vir meer brekende- en gemeenskapsnuus, besoek gerus ons webtuiste: www.witbanknews.co.za
  • Jy kan ons ook volg op sosiale media platforms: Facebook Twitter of Instagram

 
Back to top button