‘Een-arm’ bedelaar baie goed met rekenaars sê die wat hom ken
André Stoltz bind sy linkerarm teen sy lyf vas. Selfs nadat sy geheim op die lappe gekom het, bedel hy nog steeds met sy ‘een arm’.

eMalahleni se ‘een-arm’ bedelaar staan nog steeds by die verkeerslig op die hoek van Louisestraat en OR Tamboweg en draai motoriste ’n rat voor die oë.
In April het WITBANK NUUS op ’n video afgekom waar André Stoltz met beide hande kitaar speel.
SIEN DIE VIDEO HIER:
Hy het toe erken hy het twee hande, maar hy het gesê hy steek die een weg omdat dié nie ‘werk’nie.
Hy bind sy linkerarm teen sy lyf vas en trek dan ’n knopieshemp bo-oor aan.
Stoltz se ander lewe
Ná die berig het verskeie persone na vore getree en Stoltz se lewe ‘ingekleur’.

Hy het op ’n stadium ’n verhouding met ’n jong vrou gehad wat haar hart teenoor WITBANK NUUS oopgemaak en vertel het hoe sy hom tydens ’n funksie ontmoet het.
“Ek het na ’n paar maande snaakse gedrag begin optel en begin ondersoek instel. Sekere items het uit my huis uit weggeraak. Hy was met tye lank in die badkamer en het net aan die slaap geraak in geselskap. Hy het ook sommer in die middel van die nag geëet wat baie vreemd was,” het sy vertel.
Hy het vir haar vertel hy werk in Hatfield en was elke oggend werk toe. Min het sy geweet, sy ‘kantoor’ was op die straathoeke.
Al Stoltz se leuens het in September 2021 op die lappe gekom nadat die vrou Stoltz se voormalige baas gebel het.
“Hy het ’n graad en is baie slim. Sy ma en sy suster leef. Sy pa is jare terug oorlede,” het die vrou vertel.
“Almal se lewens loop soms verkeerd. Gee dit ons die reg om te bedrieg en te steel? En ‘for that fact’ te maak asof jy gestremd is?”
Sy het gesê as daar vir Stoltz gesê word om sy arm uit te haal, het hy die mense gevloek of vir hulle middelvinger gewys.
“Hy is ’n ‘smooth operator’ en sê net wat jy wil hoor. Wat ookal hy jou vertel, ek kan jou sê dit is ‘ten to one’ ’n leuen. Hy lieg al jare. Hy was al in en uit rehabs vir jare.”
Sy het gesê hy het haar emosioneel, geestelik en psigies afgebreek.
“Dit is ’n hoofstuk wat ek kon afsluit net te danke aan die Here en mense naby my wat saam met my deur hierdie hel van ’n tyd gewerk het. Dit is ’n tyd in my lewe wat verby is. Ek kyk nie eendag terug nie, want ek soek nie weer sulke hel in my hart of kop nie. “Ek hoop werklik dat geregtigheid eendag sal seëvier vir die mense wie die man so ingedoen het. Ek is nie die enigste een nie.”
Stoltz se ander lewe
Mnr. Fred Landman, wie vir Stoltz se rehabilitasie betaal het, het gesê hy is woedend, want Stoltz het soveel potensiaal, maar verkies om op die straathoeke te bedel en mense te bedrieg.
Stoltz het die geleentheid om sy kant van die storie van die ‘hand’gewys en gesê hy het niks om te sê nie.
Intussen het die verkeerslig weer rooi geslaan en Stoltz het amper nederig met sy regterhand gewaai en skalks geglimlag toe ’n man in ’n wit bakkie sy venster afdraai en hom ’n paar sente in die hand stop.
Wat is jou opinie?
Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490
- Vir meer brekende- en gemeenskapsnuus, besoek gerus ons webtuiste.
- Jy kan ons ook volg op sosiale media platforms: Facebook, Twitter of Instagram
HET JY GEWEET?
Kliek op die woorde wat in kleur uitgelig is om meer te lees oor verwante temas.