DBV gee nie net om vir lewende diere nie
Dooie hondjies in boks verwyder en met waardigheid begrawe deur DBV
’n Groot dankie aan die hardwerkende personeel van die DBV in eMalahleni vir alles wat hulle vir diere doen – die lewendes en die dooies.
WITBANK NUUS het klagtes ontvang van ’n boks met dooie hondjies in, wat iemand langs die brug in Second Street in Blancheville net so gelos het.
Die munisipaliteit was na bewering gekontak om die boks te kom verwyder, maar ná dae het nog niks gebeur nie.
Op Donderdag, 30 Mei het WITBANK NUUS gaan opvolg of die boks nog daar lê.
Die boks met dooie hondjies in was steeds daar, maar voor enigiemand hul oë kon uitvee, het Nic Mahlangu van die DBV opgedaag en die boks in die DBV se bakkie gelaai sodat die hondjies ten minste met waardigheid kon begrawe of veras word.
Dit was nie die DBV se verantwoordelikheid nie, maar hulle kon nie net toekyk hoe die hondjies net daar lê en verrot nie.
“Soms word halfdood of dooie diere net voor ons hek gelos. Dit is baie hartseer van die mensdom. Dit is onmootlik om vir elke boks en sak te stop. Dis altyd my grootste vrees, as iemand wat met diere werk, dat waar is die mamma van hierdie hondjies; as die eienaar só wreed kan wees om hulle net daar te los,” het Carika Roux van die DBV gesê.
Die DBV benodig ook dringend die volgende: Droë hondekos, blikkies kat- en hondekos, katsand, waspoeier, swembad chloor, kantoor papier, komberse, rubberstewels en baadjies vir die werkers, warmwaterbottels en ook tuinslange.
Enige hulp of donasies sal baie waardeer word.
Kontak die DBV by 013 650 2321.
https://www.facebook.com/reel/1587912385406004
Het jy ’n storie om te vertel?
Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490
- Vir meer brekende- en gemeenskapsnuus, besoek gerus ons webtuiste: www.witbanknews.co.za
- Jy kan ons ook volg op sosiale media platforms: Facebook Twitter of Instagram
