Oom Wimpie word reeds gemis
Oom Wimpie se begrafnisdiens vind Maandag, 12 Augustus om 11:00 vanuit die Hervormde Kerk Suid Oos plaas.
Medelye stroom die afgelope paar dae van regoor die land in na die dood van die eienaar van Leeuwpoort Koelkamers, oom Wimpie Glover.
Oom Wimpie is op 5 Augustus oorlede. Hy het ’n geruime tyd al met sy gesondheid gesukkel.
Sy seun, Tommy Glover het gesê hulle vermoed oom Wimpie het ’n massiewe hartaanval gehad.
Vir wie gaan ek nou met ertjies kan gooi?
Blignaut 5
Toe ek, my boetie en sussie heelwat kleiner was het ons en oupa Wimpie (ek het van babatyd af hom oupa genoem), mekaar gegooi met ertjies of boontjies as ons by die slaghuis gekom het. Ons het ook gereeld op die trampolien gaan speel of in die tuin gaan sit en stories vertel oor alledaagse dingetjies. Dit was beslis een van my beste tye gewees saam oupa Wimpie. Sy liefde, omgee en vriendskap sal beslis gemis word. Rus sag, oupa. Baie dankie vir al oupa se bederfies en wat oupa vir my tannie gedoen het.
’n Groot boom het geval
Helena (Tiekie), Blikkies, Jonell, Ernie en Martinette Blignaut.
Inderdaad het ’n groot boom geval! Oom Wimpie, jy was ’n groot boom in wie se skadu ons kon skuil. Jou takke van liefde en omgee het jy oor ons gesprei. 2003 was die jaar wat ek jou ontmoet het. Min het ek geweet dat jy diep, baie diep in my hart sou kruip.
Ek het jou leer ken deur my oom wat vir jou gewerk het. Uit my hart, dankie vir wat jy tot jou laaste asem vir my sus en haar kinders gedoen en beteken het. Tannie Bets, vir jou ook. Dankie dat jy oom Wimpie met ons familie en die gemeenskap gedeel het. Wimpie Glover, jy was ’n omgee-mens met ’n sagte hart. Ek sal jou altyd onthou met jou kaki klere, ‘ice tea’ en in die begin jare met jou kromsteelpyp. Jou droë sin vir humor. Jou liefde vir die kinders.
Jy het hul altyd bederf. Jy het nie onregverdigheid geduld nie en wanneer jy iemand in jou binnekring gelaat het, was dit ‘for life’. Leeuwpoort Koelkamers sal nooit weer dieselfde wees nie.
PS: Gaan jaag die engele op hol met Patrys se Bobbejaanspinnekop in die ‘canned fruit’ bottel.
Ons gaan jou baie mis ou Grote. Saluut tot ons weer ontmoet.
Ek sal jou altyd onthou
Patrys
Dit was ’n eer en voorreg om hom te ken, en om een van sy werknemers te wees. Hy was ’n reguit mens, intelligent, opreg, vinnig kwaad, maar net so vinnig weer goed, met ’n breë glimlag.
Sal jou vir altyd onthou!
Biltong eskapades
Zita Goldswain (nuus redakteur Witbank Nuus).
Oom Wimpie het gereeld by my kantoor kom inloer en op sy reguit manier vertel ek moet dié storie en dáárdie storie dadelik opvolg, want dis van belang vir die gemeenskap. Sonder om doekies om te draai het hy die feite op die tafel gelê en ek moes opvolg, dit terwyl hy sit en wag dat dit gedoen word. Oom Wimpie was ’n korrelkop met die sagste hart.
Op ’n dag het hy weer ingeloer en ek het hom grappendergewys oor die vingers getik en gesê, hoe kan ’n man nou kom ‘kuier’ sonder ’n lekker stuk geelvet-biltong. Sy antwoord was kort en bondig, ‘Jy weet waar is die slaghuis – loop koop vir jou ’n stuk’. Die volgende dag het oom Wimpie kom inloer en vir my die lekkerste stuk geelvet-biltong saamgebring.
Oom Wimpie was ’n anker in die gemeenskap, ’n groot boom met sy wortels stewig geanker.
Dankie oom Wimpie vir die geselsies, die artikels wat ek moes opvolg, dat jy my op my tone gehou het en die lekkerste stuk geelvet-biltong. Jy laat ’n groot leemte.
Dekades se vriendskap
Phillip du Preez
Ek ken Wimpie van 1980 af. Ek was werkswinkelbestuurder by Heymans en Zillen vir 20 jaar en dis hoe ek vir Wimpie ontmoet het.
Hy was mede-eienaar van FGM konstruksie en het hulle masjinerie by ons gekoop, gediens en herstel.
Ons het bevriend geraak en hy het my dikwels saamgenooi na sy wildsplaas op Alldays vir ’n naweek waar ek bietjie instandhouding gedoen het vir ’n gratis jagnaweek.
Op ’n dag kry ek toe R4 000 terug van belasting. Ek en my vrou, Emma, het dit toe gedeel, R2 000 elk.
Ek het toe vir my ’n teleskoop vir my geweer gekoop en ons het hom op die jagplaas gaan instel.
Wimpie vra toe vir my wat Emma met haar geld gaan doen. Op daardie stadium het Emma se suster, Anna, op Richardsbaai gewoon en was by haar kerk betrokke met insameling en verdeling van kos vir die behoeftiges; hulle het toe gesorg vir ’n wit plakkerskamp in Richardsbaai.
Ek vertel toe vir Wimpie Emma gaan haar deel vir haar suster gee om kos aan te koop vir die wit plakkerskamp.
Op pad na Alldays stop Wimpie by ’n aartappelboer en koop 20 sakkies aartappels. Die Sondagaand voor ons terugry Witbank toe, skiet hy met die skietlamp 10 rooibokramme.
Sy werkers het dit afgeslag en in die koelwaentjie gelaai dat dit koud bly.
Wimpie sê toe ek moet net Vrydag voor ek Richardsbaai toe ry kom draai op Leeuwpoort.
Vrydag daar gekom, het Wimpie ’n sleepwa gelaai, 10 sakkies aartappels, daardie 10 rooibokke was ontbeen, gemaal en in 1 kg pakkies verpak, hard gevries, een groot sak wit mieliemeel en 10 12.5 kg sakkies wit suiker, en die vleis wat Kobus la Grange op Leeuwpoort gemaal en verpak het, ook geskenk.
Verder was die waentjie volgemaak tot bo met groente vanuit sy eie groentetuin.
Hy het gesê as Emma haar R2 000 kan gee, kan hy ook gee.
Ek ry toe Vrydagaand deur na Richardsbaai, maak haar suster 02:00 die oggend wakker, want ek was bang die vleis gaan af. Haar suster het almal by die kerk wakker gebel en het dadelik begin om die kospakkies op te maak.
Die volgende oggend is daar met Emma se R2 000 nog goedjies wat kort was by Checkers aangekoop.
Almal het gehuil, want die Here het hulle gebede verhoor.
Toe my seun, Willie du Preez klaargemaak het met skool, het hy nie werk gekry nie.
Die maatskappye het baie mense afbetaal en werk was skaars.
Ek het met Wimpie daaroor gepraat en hy het gesê ek moet hom plaas toe bring, hy sal vir hom werk skep.
Wimpie en Willie het toe begin om kool vir die mark te plant en verkoop. As die kool afkom, was dit groenmielies.
Om die inkomste te verhoog, begin hulle toe Leeuwpoort Koelkamers saam.
Wimpie was ’n harde man en het my seun hard gedruk.
My seun was egter ’n harde werker en het naam gemaak onder die boere.
’n Boer van Louis Trichardt het van my seun gehoor en hy het toe by Limpopo Melkery begin werk.
Hy was verantwoordelik vir die lande en water.
Kort storie, hy is nou die eienaar van vier plase en het laasjaar derde plek gekry as kuilvoerboer van die jaar.
Hy is wat Wimpie hom gemaak het.
Het jy ’n storie om te vertel?
Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490
- Vir meer brekende- en gemeenskapsnuus, besoek gerus ons webtuiste.
- Jy kan ons ook volg op sosiale media platforms: Facebook, Twitter of Instagram
HET JY GEWEET?
Kliek op die woorde wat in kleur uitgelig is om meer te lees oor verwante temas.