Klipgooiers doenig op die N4 – bekende hengelaar waarsku motoriste om versigtig te wees
Motoriste word gemaan om versigtig te wees op die N4, want selfs helder oordag is hulle 'n teiken.
‘n Naweek wegbreek het nie so goed afgeskop vir ‘n bekende hengelaar nie.
Arno van Rooyen en sy gesin was gister op pad na Olifants River Lodge vanaf Pretoria en naby eMalahleni is sy bakkie met klippe gegooi.
“Dit was helder oordag net na 11:00. Ek het omtrent 110km to 120km gery toe ek skielik ‘n geluid gehoor het. Iemand het ‘n klip na ons bakkie toe gegooi en getref. Ek sweer daai ou speel krieket, want dit was sekuur. Net ‘n bietjie hoër en die agterruit was uit en as ons stadiger gery het, was ons voorruit uit,” het Van Rooyen vertel.
Hy glo dat die rowers hoop jy stop as jy die geluid hoor om jou te roof.
“Moet onder geen omstandighede stop nie. Ry tot waar dit veilig is voor jy kyk wat die skade aan jou voertuig is,” was sy raad.
Dit is gelewensgevaarlik om na donker die N4 te ry omdat spyker-valstrikke gereeld aangemeld word.
Nou maak dit nie saak wie hulle sien nie, klipgooiers teiken ook nou voertuie en dit selfs helder oordag.
Van Rooyen is ‘n hengelaar wat weet waarvan die vis hou. Hy het in 2023 aan die World Carp Classic in Frankryk deelgeneem.
Hy is ook baie aktief op sosiale media waar hy gereeld die grotes wat hy uittrek asook hy kennis deel.
Hy het genoem dat hy en sy gesin die naweek net wil ontspan en net miskien sal hy ‘n lyn natmaak.
Nuus wat saak maak … Volg WITBANK NUUS op ons webtuiste, Facebook, Twitter, Instagram of TikTok
Gesels met ons: info@witbanknews.co.za
