Local newsNews

eMalahleni se ‘boer’ slaan weer toe en swendel geld uit aftreeoord

Die berugte ‘plaasboer’ wat gereeld skape, varke en beeste vir liefdadigheid belowe, het weer toegeslaan. Dié keer is ’n aftreeoord in eMalahleni uit R1 800 bedrieg.

Die man bekend as ‘Oom Sakkie’ oftewel ‘dokter Hennie Botha’ het weer in eMalahleni toegeslaan en dié keer ’n plaaslike aftreeoord in die sak gekry vir R1 800.

Die swendelaar se beproefde slenter behels valse beloftes van groot vleisskenkings, spesifiek geslagte en verpakte skaap-, bees- en varkvleis.

’n Woordvoerder van die aftreeoord, wat om veiligheidsredes en ter beskerming van die inwoners se privaatheid verkies om anoniem te bly, het in woede vertel hoe die ‘dokter’ haar gebel het met die oortuigende aanbod van vleis.

“Ons was so opgewonde oor die vleis. Ons het sommer klaar ’n spyskaart uitgewerk en al die lekker etes vir ons inwoners beplan,” het die vrou vertel.

Tydens ’n latere, hoogs oortuigende oproep het die swendelaar gesê sy plaas se selfoon- en internetlyne is afgesny.

Hy het toe gevra of sy vir hom vier R275-datakoepons kon koop sodat hy met haar kan kommunikeer en gesê hy sal die kontant vir haar gee sodra sy op die plaas kom.

Sy ‘inkopielys’ het ook drie pakke van 20 vullissakke, twee pakke rooi Disprin, een pak blou Disprin, en twee vyf liter water ingesluit.

Die ‘dokter’ het aangedui sy plaas is net ’n entjie buite die dorp op die Verenapad.Met die inkopies veilig in haar kattebak, was die vrou op die punt om te ry toe die ‘boer’ weer bel.

Hierdie keer het hy dringend gevra dat sy die koeponnommers van die data dadelik vir hom aanstuur sodat hy sy lyn kon herlaai.

Sy het die nommers verskaf en toe sy aanwysings gevolg.

“Ek het die leuenaar se aanwysings gevolg en omtrent 60km uitgery voordat ek tot die skokkende besef gekom het: Hierdie is ’n slenter,” het sy verduidelik.

 

“Daar was geen plaas nie en die enigste vark in die verhaal is die swernoot wat ons bedrieg het.”

Polisiewoordvoerder kaptein Eddie Hall het bevestig dat talle mense al oor die jare met hierdie einste metode gevang is.

“Die polisie het die slenter ondersoek en dit is vasgestel dat dit gereeld uit gevangenisse uit gedoen word,” het Hall gesê.

 

“Sosiale media en plaaslike kalenders word dopgehou, en wanneer ’n liefdadigheidsgeleentheid of funksie opduik, sal die ‘weldoener’ bel en vleis skenk net om later weer te bel en vir selfoon- of datakoepons te vra.”

Hall het bygevoeg dat hierdie volgehoue swendelary gelei het tot die gereelde deursoeking van gevangenisse waar selfone gereeld gekonfiskeer word.

Sy waarskuwing aan die publiek is duidelik: “As dit te goed is om waar te wees, dan moet die rooi vlaggies wapper.”

HET JY AL DEURGELOOP – VERTEL ONS MEER info@witbanknews.co.za

Nuus wat saak maak … Volg WITBANK NUUS op ons webtuiste, Facebook, TwitterInstagram of TikTok

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Zita Goldswain

News Editor at the Witbank News Caxton stable. Witbank News has been my ‘home’ for the past 24 years. Journalism is the ability to meet the challenge of filling the space true words said by Rebecca West. I meet challenges, get the better of them and fill space with true words.
Check Also
Close
Back to top button