Voortslepende wateronderbrekings in Wyk 20 borrel oor
Wyk 20 is gereeld sonder water en daar word keer op keer gevra hoekom daar nog nie JoJo tanks in dié area geplaas is nie.
Die waterprobleme in Blancheville en Jackaroopark het inwoners verlede week rooi onder die kraag gehad.
’n Pyp wat in ’n stroom wat verby Libertasstraat vloei, gebars het, het inwoners vir 11 dae sonder water gelaat.
Die gebarste pyp het hoofbrekens besorg omdat die vloei van die stroom na die onlangse reën dit moeilik gemaak het om die pyp onder die water te reg te maak.
In ’n poging om watertoevoer vinniger te herstel, het die spanne ’n alternatiewe ‘ringtoevoer’ -metode probeer. Dit het egter ongelukkig gelei tot ’n verdere pypbars naby die Puma-vulstasie weens die druk van ‘n sogenaamde ‘waterhamer’-effek.
Sondagmiddag het Pastoor Rassie van der Lith en Onkgopotse Nkwe sakke met sand gevul in die stroom geplaas en die water herlei.
Dit het die span die kans gegee om die nodige werk te doen.
Maar nie lank nadat die pyp gelas was en die water oopgemaak was nie, het die nuwe pyp gebars omdat die klep hoër op, nie oopgemaak was nie.
Thabang Mathabula, lid van die burgemeesterskomitee, het gesê die munisipaliteit beskik nie oor ’n volledige bloudruk van Emalahleni se ondergrondse waternetwerk nie.
Oor die naweek was die area weer sonder water toe ’n pyp in Eileenstraat in Jackaroopark en op die hoek van Haarlem- en Poplarstraat in Die Heuwel gebars het.
Wykraadslid Maureen Scheepers het gesê dit was 11 lang dae.
“Die situasie was baie kompleks, en dit voel asof byna alles wat kon verkeerd loop, wel verkeerd geloop het. Tog is ek dankbaar dat ons nou aan die ander kant daarvan is.”
“Ek hoop opreg dat die tegniese departement hierdie voorval as ’n leergeleentheid sal gebruik, want daar is duidelik baie ruimte vir verbetering, veral rondom beplanning, kommunikasie en die bestuur van kritieke infrastruktuur soos waternetwerke.”
Sy het haar opregte dank uitgespreek teenoor Tertius de Lange van die Blancheville Buurtwag wat hand bygesit het selfs laat in die aand, pens en pootjies in die stroom om te help waar hy kon.
“Dankie ook aan Pastoor Van der Lith en Onkgopotse vir hul inisiatief en harde werk tydens hierdie uitgerekte wateronderbreking.”
Wyk 20 is gereeld sonder water en daar word keer op keer gevra hoekom daar nog nie JoJo tanks in dié area geplaas is nie.
Die munisipaliteit kon steeds nie antwoord op die vraag nie.
Ext 10 residents without water for a week
— WitbankNews (@WitbankN) May 5, 2026
Read more here: https://t.co/qpkp5aKHB5 pic.twitter.com/z7t9JboZwr
Jou stad, jou storie soos dit gebeur. Bly op hoogte met die jongste nuus met WITBANK NUUS,
Volg ons op website, Facebook, X, Instagram or TikTok
Epos: info@witbanknews.co.za
