Twee ma’s sê hul skootrekenaars en selfone is gesteel terwyl hulle hul kinders by plaaslike skole afgelaai het.
Burnadette Nagel het gesê Vrydag het regtig soos die 13de vir haar gevoel. Sy het pas haar dogtertjie by Laerskool Kragbron se Graad R-hek afgelaai toe haar skootrekenaar en selfoon binne sekondes gesteel is.
“Ek het my dogtertjie uit die motor gehelp. Toe ek omdraai, was my goed weg,” het sy ontsteld gesê.
“Vyf jaar se herinneringe op my selfoon is weg en 12 jaar se werk op my skootrekenaar is weg. Jy bêre van jou goed op die cloud, maar daar is steeds dokumente op jou rekenaarskerm en in privaat vouers. Dit is ’n geweldige verlies.”
Michelle van der Westhuizen is net so omgekrap ná ’n soortgelyke voorval op 12 November by Laerskool Klipfontein.
Sien die video hier
“Ons motor is gejam, en my skootrekenaar, selfoon en alles anders is binne sekondes uit die voertuig gesteel. Op die videomateriaal kan ’n mens sien hoe die persoon eers aan die een kant van ons motor stop om die sein te blokkeer en dan nader aan die ander kant stop om te steel. My man was doodseker hy het die motor gesluit, maar hierdie verdagtes is baie slim.”
Sy het gevra dat die verdagtes ten minste net haar geheuekaart terugbesorg, aangesien jare se herinneringe daarop gestoor is.
Die afstandbeheerblokkering van motors se sluitmeganismes (remote jamming) is volgens ’n polisiewoordvoerder van Witbank ’n groot kopseer.
“Sodra jou kar gesluit is, trek altyd aan die deurhandvatsel om seker te maak die deur is behoorlik gesluit. Moenie handsakke, skootrekenaars of waardevolle items op die sitplek los waar misdadigers dit kan sien nie. Let op vir persone wat verdag optree en meld dit dadelik aan,” het Witbank SAPD se woordvoerder, adjudant-offisier David Ratau, gesê.
Herman Coetzee, voorsitter van Laerskool Klipfontein se beheerliggaam, het gesê hulle is bewus van die insident.
“Ons het sekuriteitskameras en wagte op die skoolterrein wat die veiligheid van ons leerders verseker. Ons sal die sekuriteit opskerp, want veral dié tyd van die jaar neem misdaad oral baie toe,” het Coetzee gesê.
Jou stad, jou storie soos dit gebeur. Bly op hoogte met die jongste nuus met WITBANK NUUS,
Volg ons op website, Facebook, X, Instagram or TikTok
Epos: info@witbanknews.co.za
