“As ek voor God kan sit, sal ek eers stil raak”
Terwyl die gemeenskap op hul knieë bly vir Brandon, is elke beweging wat hy maak ’n flikkering van hoop.
Lizelle en Flippie Joubert weier om hoop op te gee nadat hul seun Brandon (19) in ’n ongeluk betrokke was wat sy lewe onherroeplik verander het.
Hy en ’n vriend, Stephan Greyling, was op 1 Augustus op pad na ’n visvang-uitstappie toe hulle met ’n klein vragmotor gebots het.
Die ongeluk het tot ernstige hoofbeserings gelei wat Brandon wekelank in Life Cosmos-hospitaal se intensiewesorgeenheid gelaat het, waarna hy na ’n rehabilitasiesentrum oorgeplaas is.
Stephan was vir agt dae in die hospitaal en het drie weke by die huis aangesterk voor hy weer skool toe kon gaan.
Hy het intussen uitstekend op die sportveld herstel – hy het op 16 en 17 Oktober aan die Top 30-byeenkoms in Sasolburg deelgeneem en sy persoonlike beste tye in die 800 m en 1 500 m opgestel. Hy het ook onlangs sy afdeling in die Coaldust Dust Grinder gewen.
Lees meer ‘Hou aan veg, Brandon!’ pleit ma
Brandon, wat voor Witbank Nuus-lesers grootgeword het en op die krieketveld en atletiekbaan uitgeblink het, se groot droom was om eendag die 800 m by die Olimpiese Spele te hardloop.
Vandag hardloop die plaaslike gemeenskap sy moeilikste resies ooit saam met hom, terwyl sy ma elke dag klein mylpale en tekens van vordering aanteken.
Sien die video | Brandon Joubert is in aksie tydens die SA Skole-atletiekkampioenskap op 5 April 2024.
Op 27 Oktober het meer as 500 atlete byeengekom vir ’n 5 km-pretdraf om fondse vir Brandon se mediese uitgawes in te samel.
Vir Flippie en Lizelle is daar dae van trane, vrees en onsekerheid, maar ook dae van klein oorwinnings wat hul harte weer laat hoop.
“Ons het geleer om nie meer net na die groot mylpale te kyk nie. Elke beweging, elke reaksie, elke sluk, elke poging en elke klein teken van vordering is vir ons ’n geskenk,” het Lizelle gesê.
Hulle verlang na Brandon se stem, sy lag, sy energie en al sy grappies.
Sien die video | NoddyTunes en Stormklanke se lied vir Brandon laat die trane rol
NoddyTunes en Stormklanke se lied vir Brandon laat die trane rol https://t.co/vrD6c8JmaJ #brandonjoubert #gebed @WitbankN @ZitaGoldswain https://t.co/WbcEUFNjCh
— WitbankNews (@WitbankN) September 1, 2026
Op die vraag wat sy sou doen as sy voor God kon staan en ’n gesprek met Hom kon voer, antwoord Lizelle dat sy waarskynlik eers net stil sou raak en huil.
“Nie omdat ek nie meer geloof het nie, maar omdat daar soms soveel in ’n ma se hart aangaan dat woorde net nie genoeg is nie,” het sy gesê.
Lees meer Gebede word elke dag om 16:33 hardop vir Brandon gebid
“Ek sou vir God sê: ‘Here, U ken my hart. U weet hoe lief ek my kind het. U weet hoeveel drome hy gehad het en hoeveel daar nog vir hom voorlê. Here, ek vra nie dat U vir my die hele pad moet wys nie. Ek vra net dat U my hand moet vashou terwyl ons hierdie pad stap. Ek vra dat U Brandon se brein, sy senuwees, sy liggaam en sy hele wese sal aanraak. Gee hom die krag om te herstel. Herstel wat gebreek is. Bring lewe waar daar skade is, beweging waar daar swakheid is en hoop waar daar onsekerheid is.”

Haar woorde tref ’n mens diep: “Here, wanneer Brandon nie self die woorde kan vind nie, hoor asseblief die gebede wat ons namens hom bid. En Here, as ek moeg raak, dra my. As ek bang raak, herinner my aan U beloftes. Wanneer ek nie verstaan nie, help my om steeds te vertrou.”
Lizelle sê sy weet nie hoekom hierdie pad deel van hul storie geword het nie, maar sy weet God het hulle nie verlaat nie.
Alhoewel Brandon steeds ’n lang pad van rehabilitasie voor hom het en tans net 44,6 kg weeg, weier sy ouers om sy toekoms namens hom te beperk.
Hulle vra die gemeenskap om nie net prakties en finansieel te help met Brandon se terapie en versorging nie, maar ook om saam met hulle te bid en te bly glo.
“Ons wil hom by die huis hê. Ons wil hom weer sien glimlag, weer sy drome hoor praat en hom die geleentheid gee om die beste moontlike lewe te leef,” het sy gesê.
“God is nog nie klaar met Brandon nie. Sy storie is nie klaar geskryf nie.”
*’n BackaBuddy-veldtog is vir Brandon begin. Kliek hier om by te dra.
Jou stad, jou storie soos dit gebeur. Bly op hoogte met die jongste nuus met WITBANK NUUS,
Volg ons op website, Facebook, X, Instagram or TikTok
Epos: info@witbanknews.co.za
