‘Save the date’ vir ’n Facebook-polka
Kersfees klop aan die deur en nog steeds het ons nie gaan koffie drink nie.

‘Ons moet bymekaar uitkom vir ’n koffie’, ‘Ons gaan binnekort ’n vleisie op die kole laat baljaar’.
Ons gaan binnekort ook Kersfees vier.
Tyd het ons ingehaal en oor ’n maand of wat sal die kersversierings in die winkels uitgepak word.
Dan sal ons die koffie en braai moet laat oorstaan volgende jaar toe.
Die Engelsman het sy ‘eish’ by die gesprek gegooi soos hy sy drinkdingetjie laat tiekiedraai in sy glas.
Hy reken dis sosiale media se skuld.
“Ons is almal in ‘fast-forward mode’. Die dae word nou langer, maar dis nie genoeg nie, ons kom net nie by alles uit nie, want ons spandeer die helfte van die tyd op ons fone,” het hy gemor.
Wat hy sê het hard geslaan, want dit is die waarheid.
Ons kommunikasie destyds was ’n huistelefoon. Dié is van die mikkie afgehaal as jy nie gepla wou word nie. Later net na ons kuikens gebore is, het ons ’n blou Alcatel selfoon gekry, maar dit was om te bel.
Die ou baksteentjie het handig te pas gekom vir oproepe.
Ons het by alles uitgekom, ons het self ons gras gesny op laat somersmiddae en dan sommer daar gesit en waatlemoen geëet.
Ek het toe nog tyd gehad om self wasgoed te was, op te hang en stryk tot ek geleer het hoe om op te hang sonder om te stryk.
Ons het in die aande gesit en gesels en almal het uit die perd se bek gehoor hoe dit gaan.
Maar in 2004 het ’n groepie studente die lewe op sy kop gedraai met hul toep Facebook.
Skielik is daar nie tyd vir koffie of ’n vleisie op die kole nie.
Die ure in ons dag word opgeslurp deur sosiale media.
En so kom die Engelsman met ’n plan vorendag en hy seg hy gaan ons vriende nooi vir ’n Facebook-polka.
Jy sit waar jy sit, drink waarvoor jy lus het en ons ‘face-time’ met mekaar ‒ so gaan ons mekaar ten minste sien voor die jaar ons groet.
Datum en tyd sal bevestig word….
Deel jou nuusbrokkies met ons Telefoon: 013 656 2490 Epos: info@witbanknews.co.za
Of volg ons op sosiale media platforms Instagram Twitter Witbank News App Facebook page Witbank News Breaking
