CrimeLocal news

Man en sy vriendin na bewering ’n ‘roomys’ voor die oë gedraai

Die man en sy vriendin het na bewering slagoffer geword van ’n rooftog toe rowers voorgee om ’n roomysmasjien aanlyn te verkoop.

’n Man en sy vriendin is na bewering ingeloop en beroof deur ’n groep mans wat voorgegee het om ’n roomysmasjien aanlyn te verkoop.

Die man, wat vir sy eie veiligheid ongeïdentifiseerd wou bly, het vertel dat hy ’n advertensie op Facebook gesien het op die aand van 30 September, vir ’n roomysmasjien wat te koop is.

“Ek het ’n boodskap aan die verkoper getik en gevra of dit steeds beskikbaar is. Hy het vir my ’n nommer aangestuur en gesê dat ek hom daarop moet skakel.”

Die oproep is gemaak en hy het vertel dat hy vir die verkoper gesê het dat hy hom sal kontak indien hy besluit om die masjien te koop.

Die verkoper het blykbaar dieselfde aand reeds ’n speldligging aangestuur wat Winterveld, Pretoria aangedui het.

Die volgende oggend, het hy vertel, het hy die verkoper vroeg geskakel en laat weet dat hy Pretoria toe gaan ry.

Die verkoper het na bewering ’n ruk daarna teruggeskakel en gevra dat hy hom moet laat weet wanneer hy in Pretoria is, want hy moet voorraad gaan afhaal.

Hy en sy vriendin het gery tot in Pretoria, die verkoper laat weet en verder gery tot by die speldligging.

Na bewering het hy met hul aankoms die verkoper geskakel wat vir hom gesê het dat hy een van sy werkers sou stuur om hulle na hom te lei.

Hy het vertel dat hy die ‘werker’ sien aankom het en dat dié agter op die bakkie geklim het.

Hy het gesê dat hulle ’n ruk gery het totdat hulle tussen twee mure aan weerskante van die pad was.

Na bewering het die ‘werker’ afgespring en die sleutel uit sy bakkie se aansitter gehaal.

“Toe hy die sleutel uit het, het nog vyf ander om die hoek gehardloop. Twee het vuurwapens gehad, en een van dié het aangehardloop gekom en sy vuurwapen op my gerig.”

Die groep het hom glo daarna uit sy bakkie gehaal, dadelik deursoek, teen een van die mure laat staan en toe gesê dat hy moet sit.

“Hulle het my beursie, bankkaart en my en my vriendin se selfone gevat en dadelik op die bank-toep probeer gaan. Hulle het aangedring op my kode en my aan die kant van my gesig geslaan met die vuis.”

Hy het vertel dat twee groeplede gestuur is om geld uit sy rekening te trek, terwyl twee ander wag gehou het oor hom en sy vriendin.

Die laaste twee van die groep het ’n paar meter agter sy bakkie op ’n klip gesit en telefonies kommunikeer met die twee wat gestuur is om geld te trek.

“Een van die twee wat wag gehou het oor ons, was ongewapen. Hy het gesê hulle soek net geld, dat ons nie ’n teenaanval moet loods nie en moet wag.”

Die twee wat geld gaan trek het, het teruggekom na ’n tydperk en hy het vertel dat sy sleutels teruggegee is, sy beursie op die grond gegooi is sonder sy bankkaart en dat hulle gesê het hy moet reguit terugry eMalahleni toe.

“Ek slaap nie rustig nie, want mens voel onveilig, veral oor die feit dat hulle al my besonderhede en inligting het,” het hy ten slotte gesê.

Deel jou nuusbrokkies met ons per Telefoon: 013 656 2490 Epos: info@witbanknews.co.za of volg ons op sosiale media platforms Instagram Twitter Witbank News App Facebook page Witbank News Breaking

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Zita Goldswain

News Editor at the Witbank News Caxton stable. Witbank News has been my ‘home’ for the past 24 years. Journalism is the ability to meet the challenge of filling the space true words said by Rebecca West. I meet challenges, get the better of them and fill space with true words.
Check Also
Close
Back to top button