Haal jou hoed af vir Job
Van ‘mamparra’ bakstene maak tot hoede vleg met niks meer as gras, naald en garing nie, is daar geen twyfel dat Job Sithole ’n sonstraal man is met hande van ‘gras’ en kreatiwiteit nie.
Job Sithole (64) is ’n man met ’n persoonlikheid soos sonskyn.
Hy gesels met soveel mense as wat hy kan en los jou altyd met ’n glimlag.
Met ’n sonskynpersoonlikheid, kort ander definitief ’n hoed en dit is presies wat Job met sy handewerk kan voorsien.
Job het vertel dat hy gebore is in Greylingstad en grootgeword het op ’n plaas met die naam ‘Kruger Viljoen’.
In 1973, toe Job ’n jong man van 15 jaar oud was, het hy en sy familie na Belfort getrek. Hy het vertel hoe hy daar ‘mamparra’ bakstene gemaak het.
“Jy maak die bakstene deur grond te meng totdat dit modder is. Jy vorm dit daarna en sit dit uit om droog te word. Dan pak jy dit in ’n oond om hard te word. Na ongeveer twee weke, breek jy die oond af en het dan ‘mamparra’ steen,” het hy vertel.
Sy harde handewerk stop nie by bakstene nie, want Job sit vandag met niks meer as nat gras, garing en ’n naald om pragtige en unieke hoede te maak nie.

Hy het vertel dat hy begin hoede maak het om besig te bly en het gesê dat dit maklik is om gras in die hande te kry daarvoor.
Maar, waar het hy aan die idee gekom?
“Die hoed is handewerk van skooldae af wat ek nog kan onthou om te maak. Jy het jou handewerk skool toe geneem aan die einde van die maand en punte gekry daarvoor.”
Op 19 Oktober vanjaar het Job sy vierde hoed vir die jaar gemaak by WITBANK NUUS, met sy eerste hoed vir die jaar op sy kop.
“Die tweede hoed wat ek gemaak het was nie mooi genoeg nie, want die wintergras was baie droog en moeilik om mee te werk. Dit breek ook maklik as die gras so droog is,” het hy gesê.
Die derde een was vir Job goed genoeg om te verkoop, en hy het die hoed laat gaan vir R150. Sy hoede, het hy vertel, beskerm mens beter teen die son want dit werk soos ʼn grasdak.
Vir ’n sonskynpersoonlikheid moes die vraag gevra word wat hy vir iemand sal sê om beter te voel op ’n ‘renerige’ dag.
Hy het met ’n glimlag geantwoord dat hy vir mens sal sê jy moet sit en dink aan wat jy moet doen om die probleem op te los.
Wanneer jy klaar gedink het, moet jy besluit of jy die probleem gaan deursien of weghardloop.
Enigiemand wat belangstel om een van Job se hoede te koop en te straal met hulle eie sonskyn, is welkom om by WITBANK NUUS ’n draai te maak en hulle bestelling te plaas teen R150.
Job het gevra dat dié wat belangstel net geduldig moet wag omrede die proses lank vat en omdat hy eers ’n hoed spesiaal vir die WITBANK NUUS gaan maak.
Die gemeenskap is geseënd met baie kreatiewe en kleurvolle hande en gemeenskapslede is aangemoedig om net soos Job te glimlag van onder hulle ‘grasdak’.
Deel jou nuusbrokkies met ons Telefoon: 013 656 2490 Epos: info@witbanknews.co.za
Of volg ons op sosiale media platforms Instagram Twitter Witbank News App Facebook page Witbank News Breaking
