Onbruikbare boorgatwater vang Jackaroo inwoners onkant
Dit kan moontlik ’n mors van geld wees om ’n boorgat in Jackaroopark te sink
Jackaroopark het knaend probleme met water, en die water is meer af as aan. Baie mense het nou al begin spaar om ’n boorgat te sink of het dit alreeds gedoen, maar ongelukkig lyk dit asof hul hul tyd en geld gaan mors.
In Mei die jaar het Daniel en Zelda Victor van Water Solutions South Africa (Pty) Ltd (WSSA), ’n boorgat met al die pompe, pype en watertenks geskenk aan Huis Betsie Louw.
Almal was vreeslik opgewonde om nou uiteindelik ontslae te wees van die frustrasie van sonder water sit, maar met die eerste koppie koffie, sterf almal se blydskap.
Die melk in die koffie het onmiddellik klonte gevorm en gelyk asof dit weke oud is. WSSA Group is onmiddellik gekontak en gevra wat nou met die water aangaan.
Daniel van WSSA verduidelik verder, “Ons het dadelik soontoe gegaan en watertoetse laat doen. Dit het R60 000 gekos om die boorgat te sink, en die water is heeltemal onbruikbaar. Die water is ongelooflik suur. Ons het die water laat toets deur ‘n plaaslike laboratoriu, en hulle het bevestig dat die water wel so suur is van die myne in die omgewing. As mens wel met hierdie water bad, of dit drink, sal dit jou vel en ingewande brand; dit brand dan selfs die pype binnekant.”
Daniel en Zelda het seker gemaak voordat hulle begin boor het, dat daar water is op die perseel en dat daar bruikbare water in Jackaroopark is, maar ongelukkig is die water-aar onder Huis Betsie Louw nou net een wat wel besmet is deur die jare se myn chemikalieë wat moontlik verkeerd verwyder was.
Daniel en Zelda wil graag mense in die Jackaroopark-omgewing in kennis stel en waarsku dat dit dalk glad nie die geld of moeite werd sal wees om ’n boorgat te sink nie. Al kry jy tonne water, kan dit heeltemal te suur wees om selfs jou tuin nat gooi en filters gaan nie die suur uit die water haal nie.
Daar is nie veel wat gedoen kan word aan die water wat alreeds so besmet is nie – en mens sal eers weet nadat jy water gevind het ondergrond, wat die kwaliteit van daardie water is. ’n Ongelooflike duur uitgawe wat baie mense doodeenvoudig net nie kan bekostig nie.
“Huis Betsie Louw sit nou met ’n probleem. Hulle het een 10 000 liter watertenk, en hulle het 24 mense wat daar woon. 10 000l klink dalk soos baie, maar dit is omtrent 400 liters water per persoon, per dag. Dit moet dek toiletgebruik, persoonlike higiëne, kook, skoonmaak van die huis en wasgoed en nog baie meer – en soms sit hulle vir dae lank sonder munisipale water om die tenk weer vol te maak,” het pastoor Christo Oosthyzen gesê.
Die gestremde mensies by Huis Betsie Louw kan soms nie verstaan hoekom daar beperkings op die water is nie, en vir hulle is dit moeiliker as vir die res van die gemeenskap. Hulle kan nie net by iemand anders se huis gaan stort nie, en die huis funksioneer 100% van skenkings van die gemeenskap af. Hulle het net nie die geld om water te gaan koop nie.
Die enigste oplossing is om nog watertenks op te koppel. Indien daar enigiemand is wat dit in hul hart kan vind om ’n tenk te skenk asook pype, krane of selfs net ’n klein donasie kan maak, kan hul gerus pastoor Oosthyzen skakel by 072 891 5200.
Die munisipaliteit is genader vir kommentaar, maar het nog nie gereageer nie.

Het jy ’n storie om te vertel?
Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490
- Vir meer brekende- en gemeenskapsnuus, besoek gerus ons webtuiste: www.witbanknews.co.za
- Jy kan ons ook volg op sosiale media platforms: Facebook Twitter of Instagram
