Whiskey en ‘groceries’
Prysstygings, veral net so voor Kersfees het my voete onder my uitgeslaan.

Met die onderwerp in die hand en in die ander hand ’n glasie wyn het ek en die Engelsman aan die gesels geraak. Hy het rustig ‘eish’ in sy glasie gegooi, en ek glo die Whiskey was dié keer een knertsie sterker want dis met sy bankkaart wat ek die winkels aangedurf het.
Maar dis nie oor prysstygings waaroor ek en die Engelsman heelaand gesit en gesels het nie, in alle geval is die rubriek ook aan die genade van spasie in die koerant oorgelaat en juis daarom kan ek nie oor die reuse bedrag wat ek op vleis spandeer het, uitwei nie.
Kom ons vat ’n paar treë terug in die ou dae in.
Daar was twee maniere om lewensbenodighede in daardie dae te koop het Pa my al vertel.
Die een was as jy uit ‘groceries’ geraak het en dringend iets moet kry en die ander was ’n uitstappie.
Onthou julle nog die dae toe Janneman aangesê is om gou na Solly toe te hol vir ses eiers en ’n pond botter.
Ek kan my indink hoe het dit afgespeel, “Gaan sommer daarna Oom Boerbok se slaghuis en kry vir ma vyf sjielings (toentertyd 50c werd) se skaapnek. Gryp sommer die mandjie agter die deur.”
Janneman laat waai in die stofpad af na Solly Lebowitz se kontantwinkel waar hy agter die toonbank sit en rustig sy pyp suig.
“Oom ma vra ses eiers en ’n pond botter, sommer op die boek!” het Janneman skril geskree want sy stem was ook op daardie stadium besig om te breek.
Die volgende stop was Oom Boerbok se slaghuis so skuins oor die straat van Solly se kontantwinkel.
“Oom, ma vra vyf sjielings se skaapnek, sit sommer op die boek, Oom!” het Janneman se stem deur die lug geklief.
Oom Boerbok het vandag nie baie kliënte nie en smag na geselskap.
“Sê my Janneman, kom julle mense kuier dat jou ma so baie vleis koop?”
“Oom, ek dink Oom Galpit het gefoun en gesê hy en Ant Nella en die drie kinners kom die naweek inloer!”
“Nou maar goed Janneman, groetnis vir jou Ma en Pa en sommer ook vir Galpit en Nella.”
My pa het ook vertel van die tweede manier om ‘groceries’ te gaan koop, die einde-van-die-maand uitstappie.
Pa was gebaadjie en ‘getie’ met blinkgepoetse swart skoene aan. Dit was die enigste tyd wat die vellies op die agterste vensterbank laat staan is om droog te word.
Ma is opgetof en ‘gepynt’. Die hare is in ’n stywe bolla gedraai, sy had hoë hakskoene aan en jy kon haar reukwater op ’n afstand ruik.
Die motor wat Janneman en Kierie vroeër die oggend gewas het, hou voor Solly se winkel stil. Solly se vrou, Queenie, is ook vandag daar want dit gaan ’n besige dag wees. Daar is oor en weer blad geskud en soene uitgedeel.
Nadat al die belangrike nuus uitgeruil is en daar na almal se welstand verneem is, word aandag aan die ernstige saak ‘groceries-koop’ gegee.
Solly sê vir Pa wat die vorige maand se skuld was en dit word terstond gedelg.
“Sit maar vandag se goed op volgende maand se boek, Solly,” het Pa gesê.
Na daar weer blad geskud en oor-en-weer gesoen is ry Ma en Pa na Oom Boerbok se slaghuis toe.
Die gegroetery en nuus oordraery word eers by Boerbok Botha se slaghuis herhaal en eindig ook met ’n “Sit vandag se vleis maar op volgende maand se boek, asseblief ou Boerbok.”
Vandag stap jy by ’n Supermark in, neem jou inkopies van die rak af en plaas dit in ’n mandjie of waentjie. Dan na die kassier wat jou met ’n geforseerde ‘Goodday’ groet.
Dan wil sy weet of jy ’n ‘plestiek’ wil hê? Lyk dit vir haar of ek die brood, 2.5kg suiker, sakkie aartappels en vyf liter water in my hempsak gaan inkry?
En waar Pa 15-pond (destyds R30) vir ’n maand se ‘groceries’ betaal het, moet ek nou R130 vir die brood, 2.5kg suiker, sakkie aartappels en vyf liter water betaal.”
In Pa se dae het hulle nie vir water betaal nie ook nie vir die ‘plestiek’ om die ‘ groceries’ in te pak nie.
Seg die Engelsman rustig terwyl hy nog ’n knertsie inskink en die ‘eish’ ingooi, “Ek wonder of daar iemand is wat die Whiskey so op die boek vir my sal gee”.
