GeneralSport

Righard skop ’n silwer los

Dié 17-jarige leerder van die Hoër Tegniese Skool het die afgelope naweek ’n silwer medalje verdien tydens die Suid Afrikaanse Skopboks kampioenskap.

Moenie dat Righard Burger se skraal voorkoms jou flous nie.
Dié 17-jarige leerder van die Hoër Tegniese Skool het die afgelope naweek ’n silwer medalje verdien tydens die Suid Afrikaanse Skopboks kampioenskap.

Die kampioenskap het op Saterdag 29 April in Durban plaasgevind.

Righard het sy twee uitdunrondtes gewen, maar moes die knie buig teensy meer ervare opponent Cameron Simon.
Righard wat ’n oranje belt in die sport het was die laagste belt in dié 16 tot 18 jaar 57kg tot 63kg afdeling.

“Dit was ’n wonderlike ondervinding gewees. Ek het een meer geveg as Cameron gehad en dit wasop die einde my grootste hekkie. My bene en my lyf was moeg,” het die jongman gesê.

Righard wag nou om te hoor of hy plek gekry het in die nasionale- of die president span.
Kontaksport is in sy bloed. Sy oë gesels saam en liggies van opwinding steek daarin op as hy lostrek en begin gesels oor die sport.


Righard Burger het ’n silwer medalje verwerf tydens die Suid Afrikaanse Skopboks kampioenskap.

Righard het vertel dat hy in skoolvakansies vyf keer ’n week oefen en wanneer die skooltermyn aan die gang is oefen hy twee keer ’n week. Omdat hier nie meer ’n plaaslike skopboksklub is nie, oefen hy in Middelburg by Xtreme Kickboxing Technologies.

Sy afrigter, Pieter de Klerk is vol lof vir sy student wat behalwe vir die skopboks ook in gemengde vegkuns deelneem.

“Righard oefen baie hard en hou by ’n streng dieet om sy gewig te hou vir sy afdeling. Hierdie is ’n strategiese sport en vir gemengde vegkuns weeg hy 61kg. As hy in skopboks deelneem trek hy die skaal op 62.5kg. Hierdie jongman is baie gefokus en oefen net so hard by die huis soos by die klub,” het Pieter gesê.

Righard wil al die style bemeester om hom na die hoogste vlak van die kontaksport te neem.
Hy het ook al op die atletiekveld sy slag gewys. Dit is veral in die verspring item wat hy uitblink. Twee jaar terug was sy beste distansie 5.9m. Dit was in dieselfde jaar dat hy by die skool as sportman van die jaar vir sy ouderdomgroep aangewys was.

Maar volgens ma, Ina, moet hy ook genoeg tyd inruim vir sy skoolwerk. Hy het genoem dat hy graag Biokinetika wil gaan studeer.

Tussen die sport en skoolwerk droom Righard groot drome. Hy het nou net een doel voor oë en dit is om eendag sy eie klub af te rig.

Back to top button