Kom vier Geloftedag op Balmoral

Die Gelofte is in verband met die Bloedrivierslag op 7 en 9 Desember 1838 afgelê.

Die Gelofte van 182 jaar gelede is deel van die Afrikaner-geskiedenis, daarom word dit elke jaar onderhou en word dit gevier as ’n dankdag en sabbat tot eer van God.

’n Geloftefees word sedert 1937 jaarliks in Ogies en omgewing herdenk en vanjaar sal geen uitsondering wees nie. Die fees vind Woensdag, 16 Desember by Laerskool Balmoral plaas. Verrigtinge begin om 09:00 met skriflesing en gebed deur Leon Nel.

Daar is ook ’n voorlesing deur Naas Botes oor die Slag van Bloedrivier, soos saamgevat deur Kol. Chris van Wyk. ’n Skietdemonstrasie sal gelewer word deur Ed Rossiter waar ’n 25 Ponder kanon, 10 Ponder kanon en voorlaaier geweer ondermeer afgevuur sal word.

Gebraaide boerewors en verversings is gratis, maar daar sal wel donasies opgeneem word vir die Geloftefeesfonds.

Covid-19 grendeltyd regulasies sal geld, so onthou om u masker saam te neem.

“As u die Gelofte, soos deur ons voorvaders in 1838 afgelê, bindend tot u geloofsoortuiging vind, kom woon asseblief die Geloftefees by en bring u kinders saam om deel te neem aan die program,” het mnr. Louw Potgieter, voorsitter van die feeskomitee, genooi.

Vir enige navrae of meer inligting, skakel mnr. Potgieter: 082 356 9602.

Die Gelofte is in verband met die Bloedrivierslag op 7 en 9 Desember 1838 afgelê. Niemand was verplig om Die Gelofte af te lê nie, maar elke burger teenwoordig het dit wel gedoen. Almal was baie bewus van die erns van die saak, en dat dit ’n toekomsverpligting op hulle en hul nageslag plaas. In die laer langs die sytak van die Buffelsrivier, oftewel Umzinyatirivier, wat later Bloedrivier sou word, het die burgers die aand voor die Sondagslag Die Gelofte ten aanhore van die omringende vyand herhaal.

Die Gelofte

My broeders en mede-landgenote, hier staan ons voor die heilige God van hemel en aarde om ʼn gelofte aan Hom te doen dat as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons die dag en datum elke jaar as ʼn dankdag soos ʼn sabbat sal deurbring, en dat ons ʼn huis tot Sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte, want die eer van Sy naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button