Goedhartige inwoner besig om Klipfontein-dam op eie onkoste skoon te maak

André het vertel dat hy die park wil omkeer na sy ou glorie dae toe.

Een inwoner doen meer as sy deel om die mooi in ons stad te behou.

Mnr. André Smith (63) het dit op homself geneem om instandhouding te doen by Klipfontein Dam nadat hy vir jare by Highveld Steel gewerk het.

“Toe ek ’n jong laaitie was, het Klipfontein Dam uitgestaan bo die res met sy mooi groen grasperke, pragbome en skoon dam. Dit was ’n veilige familie kuierplek en kinders het daar gery met hul fietse en families het heerlik gebraai langs die water.

Vandag sal jy dit egter nie waag om daarheen te gaan nie – die area het agteruitgegaan en geen instandhouding word gedoen nie. Ek het begin by die brug en hom reggemaak en toe jeuk ek vir die dam,” het André vertel.

Hy noem ook dat skelms gereeld voordeel trek uit die lang gras as wegkruipplek in die park en dat dit duidelik sigbaar is waar hulle gesteelde kabels brand om weer te verkoop.

Volgens André het die werk te veel geword vir die munisipaliteit wat die gronde vir jare versaak het sonder enige sigbare opknappingswerk.

Die munisipaliteit se bestuur kon geen antwoord gee op geen instandhouding nie, maar het wel die werk wat André doen, goedgekeur.

“Ek het begin om die bome en gras uit te stoot tot teenaan die snelweg en dit kos nogals ’n paar rand. Ek betaal alleen vir dit, maar Coastal Hire kom my tegemoet met ’n goeie prys vir die gereedskap,” verduidelik André.

André vertel ook dat hy nog nie klaar is nie en nog baie wil doen, insluitende nog ’n kleiner dammetjie bou.

“Ek weet daar is mense wat die park misbruik, maar ek kyk verby dit. Volgende jaar die tyd dan sal mense sien hoe mooi die park regtig kan wees.”

Hy verduidelik ook dat hy sy tyd gehad het in sy jong dae en dat hy graag iets wil nalaat wat ’n positiewe verskil maak in die gemeenskap.

“Eendag as ek nie meer hier is nie, dan wil ek hê mense moet na die park kyk en weet dat iemand ’n verskil gemaak het en die park na sy vorige glorie gebring het. Ons kan ’n verandering maak in ons gemeenskap. Ons het klomp swaardiens gereedskap al in die park gebruik en ek het onlangs vir my ’n trekker gekoop waarmee ek die gras sal kan sny.

Ons kan nie in die bos bly nie, ons bly in die dorp en dit voel somtyds asof die bosse ons toedruk, veral as ons na die stad se strate kyk. Skoonmaak is aan die orde van die dag en ons moet só die jong generasie inspireer,” vertel hy.

Hy vertel ook dat die werk nog nie klaar is nie en dat daar nog baie is wat hy wil doen en die veiligheid van die wat die dam besoek, is hoog op die te-doen-lys.

“Die beplanning is om die voorkant van die dam mooi gelyk te kry en die omheining toe te kry en dan die gras lekker te laat groei”.

Hy is egter altyd besig met een of ander projek en glo sterk dat die gemeenskap moet saamstaan en mekaar help om die stad terug te bring na sy glorieryke dae en die pragstuk vir ons kinders agterlaat sodat hulle kan voortgaan om die mooi te behou.

 

Het jy ’n storie om te vertel?

Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490

  • Vir meer brekende- en gemeenskapsnuus, besoek gerus ons webtuiste: www.witbanknews.co.za
  • Jy kan ons ook volg op sosiale media platforms: Facebook Twitterof Instagram

Check Also
Close
 
Back to top button