Solidariteit Helpende Hand se welsynswinkels, Ons Winkel in Alberton, benodig dringend skenkings om te midde van die pandemie te help om armoede in die gemeenskap te verlig, te verbreek en te voorkom.
“Die pandemie het ons almal onverwags getref en die nood en aanvraag om hulp raak al hoe groter. Indien daar mense is wat tweedehandse ware het wat hulle nie meer gebruik nie is hulle welkom om dit aan ons te skenk.
“Dit stel ons weer in staat om dit terug te ploeg in die gemeenskap in en ook werksgeleenthede te skep,” het Frans Burger, eienaar van Ons Winkel Alberton en Ons Winkel Alberton-Noord, gesê.
Enigiets kan by Ons Winkel afgegee word, van klere, meubels, oudhede, kombuisware, klere, beddegoed, gordyne, speelgoed en skoene tot sporttoerusting en tegnologiese ware.
Ons Winkel neem hierdie goedere en omskep dit in geld wat onder meer vir Helpende Hand se studiefonds benut word wat dit vir behoeftige studente moontlik maak om te gaan studeer. Die opbrengste word ook aangewend vir verskeie ander projekte van Helpende Hand.
Besoek die winkels by Garfieldweg 38 of Tweede Laan 51.
Vir meer inligting of om ’n skenking te maak, bel Burger by 072 690 2030.



