SAPD-lede van Brackendowns se harte is seer oor die afsterwe van hulle vriend en kollega, Kol Cornelius Pienaar van Vuuren.
Hy is op 23 November oorlede na ‘n lang stryd met kanker.
Van Vuuren, of Fires soos baie hom geken het, het op 13 Januarie in 1983 by die polisie aangesluit.
Op 1 Julie in 2006 is hy bevorder tot kolonel.
Hy was polisie-lid by Mondeor Polisiestasie, Johannesburg-Sentraal Polisiestasie, Hillbrow Polisiestasie, Yoeville Polisiestasie en Alberton Polisiestasie.
In 2014 het hy as stasiebevelvoerder by Brackendowns SAPD begin.
“Ons gaan ons pa van die stasie baie mis. Hy was ‘n goeie leier, mentor en rolmodel wat altyd vir sy lede opgestaan het. Ons het baie respek vir hom gehad. Hy was welbekend en gerespekteer in die gemeenskap. Vir hom was die veiligheid van die gemeenskap sy prioriteit,” het van sy kollegas gesê.
Volgens hulle was hy ook ‘n groot familieman en hy het altyd oor sy familie gepraat. Van Vuuren laat sy vrou Sonja, twee kinders en drie kleinkinders agter.



