Voortrekkers span saam vir ‘n rolstoel
Suiderlig Voortrekkers het oor 540kg se bottelproppies ingesamel om 'n rolstoel aan Johan van den Berg te skenk.
Op 27 November het Suiderlig Voortrekkers se twee PD jeugleiers, Jayden Rautenbach en Marilee Hinds, ‘n rolstoel aan Juan van den Berg, ‘n ouer van Laerskool Orion, oorhandig. Die projek om die rolstoel te bekom het reeds in 2019 as die Penkoppe en Drawwertjies se gemeenskapsprojek begin en is deur die jeugleiers gedryf. Die doel was om 450kg bottelproppies bymekaar te maak en by Interwaste, ‘n herwinningsmaatskappy, in te handig vir ‘n rolstoel.
Interwaste koop die rolstoel aan en die koördinasie met Interwaste is deur Engelie Botha, wat die administratiewe beampte by Quad-Para is, behartig. Quad-Para is ‘n instansie wat hulle ten doel stel om die lot van quadropleë en parapleë te verlig en dit moontlik te maak om by die samelewing in te pas. Die program het vinnig vlam gevat en tot leerders en ouers van Laerskool Orion het begin om by te dra.
“Covid-19 het die verkryging van die rolstoel ‘n bietjie gerem, maar ons kon tog daarin slaag om die oorhandiging te kon doen,” sê Ilvy van Tonder namens die Suiderlig Voortrekkers.
“As daar ‘n wil is, is daar ‘n weg. Daar is reeds al 60kg in die bank so die kinders werk al klaar weer aan hulle tweede rolstoel. Wys jou net, as daar ‘n doel is, dan werk ons daarvoor.”



