Alberton inwoner Hannie van Brakel vier haar 90ste verjaarsdag op 23 Desember.
Sy woon tans by die Alberton Aftree-Oord op haar eie en doen nog alles vir haarself.
Volgens Hannie beplan sy nie iets groots vir haar 90ste nie omdat sy ‘n groot 80ste verjaarsdag gehad het.
Hannie se geskiedenis
Hannie is op 23 Desember in 1930 op ‘n klein dorpie, Syferbult naby Magaliesburg, gebore. Sy het by Hoërskool Monument haar skoolloopbaan voltooi en toe as ‘n winkelassistent begin werk.
In 1949 is sy met Kallie Coetzee getroud en die egpaar het twee kinders, vyf kleinkinders en drie agterkleinkinders.
Kallie is op die ouderdom van 42 jaar oorlede en Hannie is in 1998 weer getroud met Kobus van Brakel.
Sy het toe sy met Kobus getrou het nog twee seuns gehad.
In dieselfde jaar het hulle Alberton toe verhuis en het hier gebly van toe af.
In 2014 is Kobus weens hartkwale oorlede en het Hannie aangegaan met haar lewe hier in Alberton.
Sy het ‘n mansvriend ontmoet en hulle kuier gereeld.
“As sy gesondheid dit toelaat ry hy van Boksburg af om vir my te kom kuier,” het Hannie gesê.
Hê geloof
Vir Hannie is die groot resep om net geloof te hê.
“Jy moet jou oë na bo hou en net vertrou en dan sal jy ‘n gelukkige lewe leef. Jy sal verbaas wees om te sien hoe ons Vader jou uit moeilike tye help. Weet net dat hy elke tree saam met jou is al voel dit soms nie so nie.”
In haar vrye tyd geniet sy dit om te lees, in die tuin te werk, kos te maak en televisie te kyk.
“Ek was baie lief vir brei, maar my hande wil deesdae nie meer saamwerk nie.”
Hannie is nog baie gesond en sukkel net sommige dae met haar rug.
Een van die lewenslesse wat Hannie geleer het in die 90 jaar was dat geduld ‘n mens baie ver bring.
“Wees mensliewend en hê geduld,” het sy gesê.
Hannie se rolmodelle is en was haar ouers, Hannie en Mynhard.
“Hulle het my alles geleer wat ek weet en hulle was altyd daar vir my. Altyd die ekstra myl geloop.”



