Local newsNews

Lede groet spesiale lede

Weens gesondheidsredes verlaat Corrie Raubenheimer die VLU Dinwiddie-tak en Bracken Blommeklub.

VLU Dinwiddie-tak en Bracken Blommeklub wil ‘n baie spesiale lid, Corrie Raubenheimer, groet en bedank vir al haar insette en ondersteuning deur die jare.

In 2021 moes Corrie weens gesondheidsredes skielik haar huis verkoop en ook vir haar geliefde vriendinne by die twee organisasies laat weet dat sy nie meer so nou betrokke kan wees by alles nie.

Corrie was vir baie jare lid van VLU Dinwiddie-tak waar sy skakelbeampte en visie-voorsitter was. Sy het tydens haar tyd daar ywerig aan kompetisies deelgeneem en baie pryse gewen.

“Sy is ‘n groot inspirasie vir ons en tot vandag toe is sy nog,” het skakelbeampte van Dinwiddie-tak en Goudrifstreek asook visie-voorsitter van Bracken Blommeklub, Priscilla Atkins, gesê.

Corrie was ook vir ʼn klompie jare lid van Bracken Blommeklub waar sy ook deel van die bestuurspan van dié klub was. Net soos by die VLU het sy ook graag aan alle kompetisies by die Bracken Blommeklub deelgeneem en met pryse weggestap.

Corrie se lewe

“Ek het in 1993 uit die onderwys getree nadat ek van 1962 huishoudkunde gegee het by Hoërskool Goudrif,” het sy vertel.

In 1974 het sy vir haar ‘n huis laat bou waar sy vir 31 jaar lank gebly het saam met haar ma en suster.

“My broer en skoonssus het ook naby ons gebly en ek was deel van hulle drie seuns se grootwordjare, hulle is maar net soos my kinders.”

Sy het ook vir jare volkspele gedoen en was self deel van die volkspelegroep wat in 1969 oorsee getoer het.

“Ons het vir twee en ‘n half maande deur Europa, Engeland en Skotland getoer en aan verskeie dansfeeste saam met ander lande deelgeneem. In 1974 word ek gekies om SA te verteenwoordig gedurende ‘n toer deur SA saam met dansers van Italië, België, Skotland, Spanje en Nederland,” het Corrie vertel.

Sy het vertel dat dit ‘n wonderlike ondervinding was en sy het elke oomblik daarvan geniet. Op die ouderdom van 48 het sy besluit om weer verder te studeer vir nog ʼn diploma by die kollege vir verdere opleiding.

Nadat sy uit die onderwys uitgetree het, het sy ‘n spysenieringsbesigheid saam met haar skoonsussie, Elize en suster, Susan, begin.

In 1994 het sy by die VLU in Dinwiddie aangesluit en het dit vir jare voluit geniet.

“Op aandrang van ‘n vriendin, Hillary Lubbe, sluit ek in 2010 by die Bracken Blommeklub aan en maak weer wonderlike vriendinne.

“As gevolg van omstandighede buite my beheer verloor ek die gebruik van een van my bene en is tans rolstoel gebonde. Met die wonderlike bystand van my familie is ek nou ‘n inwoner van die versorgingseenheid by Queenshaven waar ek pragtig versorg word deur wonderlike mense.”

Baie dankie

“Namens beide VLU Dinwiddie-tak en Bracken Blommeklub wens ons vir Corrie alles van die beste in hierdie nuwe hoofstuk van haar lewe en ons hoop om haar weer so nou en dan vir ʼn kuiertjie te sien.

“Ons is baie lief vir jou goeie vriendin,” het Priscilla gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Alberton Record in Google News and Top Stories.

Themba Vukeya

Experienced journalist and news editor skilled in creating compelling digital content. Expertise includes breaking news, feature writing, and engaging storytelling across diverse stories.

Related Articles

Back to top button