Hoërskool Marais Viljoen High spog met twee van hulle eerste krieketspanspelers wat goeie prestasies die afgelope seisoen behaal het.
Nathan Steyn en Dewan Marais het baie van die talentjagters in Suid-Afrika se aandag getrek deur bo verwagting te presteer.
“Hierdie seuns het nie net die skool, Easterns en die Northern Champions vetreenwoordig nie, maar beide het ’n voorsmaak gekry van hoe dit voel om vir nasionale groepe gekies te word,” het Ryno Luus, sportdirekteur van Marais Viljoen gesê.
Nathan (SA o-19), Dewan (SA Colts), Gerhard de Bruin (SA o-19) en Jarred Alder (SA Colts) het al vier Suid-Afrikaanse kleure verwerf.
Nathan se blink toekoms
Nathan is vroeg in 2021 vir die o-19 SA-span verkies en hy het saam met dié span aan verskeie toernooie deelgeneem, hoewel hy nie in die finale span verkies is wat tans in Wes-Indië speel nie.
“Niks hou die speler met die boultalent terug nie en het hy sy staal gewys tydens die KSA o-19 Cubs week. Nathan het ’n blink toekoms wat vir hom wag en almal wag in spanning om te hoor watter unie die jong talent sal opraap,” het Ryno gesê.
Dewan, die dinamiese kolwer
Dewan het behoorlik die tonge laat klap oor die hoeveelheid lopies sowel as die wyse waarop hy die lopies aanteken het.
Die kolwer, wat die bal geweldig hard kan slaan, is sterk op pad om tydens die 2021/2022 seisoen die 2 000-lopie merk verby te steek.
En hoe dan anders as met ses 100-talle agter sy naam en ’n ongelooflike kolfstatistiek soos sy 427 lopies tydens die prestige Noord Suid T20 Toernooi einde 2021.
“Hierdie lopies het gekom teen ’n gemiddeld van meer as 70 lopies per kolfbeurt en ’n treftempo van meer as 150 lopies per 100 balle,” het Ryno gesê.
Dewan is einde verlede jaar verkies om die Easterns se o-19A-span te verteenwoordig by die Khaya Majola Week, waartydens hy tot die Suid-Afrikaanse Colts-span verkies is.
“Hy word slegs die vierde Marais Viljoen-leerder wat SA Krieket kleure verwerf.”
Dewan het ook saam met Nathan vir die Northern Champions tydens die KSA Cubs Week vroeg in Januarie gespeel en het hy ’n prag beurt van 85 lopies teen die span van die Baai aangeteken om weereens sy talent te beklemtoon.
“Groot dinge wag vir hierdie Graad 11 leerder van Marais Viljoen, en ons kan nie wag om die res van sy loopbaan dop te hou nie,” het Ryno gesê.






