Voortrekkers leer oor gestremdhede
Suiderlig Voortrekkers het op 7 Maart ’n besoek van die Gauteng-Suid-tak van die QuadPara Vereniging ontvang.
Amor Malan en Frank Juskievitz, beide kwadrupleë, het die kinders, ouers en offisiere van die Voortrekkers toegespreek.
Amor en Frank het hulle stories met die Voortrekkers gedeel. Amor is in ’n swemongeluk beseer en Frank was in ’n motorongeluk betrokke.
Onderwerpe soos bewusmaking van gestremdhede, die tipes gestremdhede, boelies en hoe teenoor gestremdes opgetree behoort te word, was bespreek. In die praatjies is daar veral klem gelê op veiligheid by die water en padveiligheid, veral die gebruik van veiligheidsgordels wanneer daar in ’n motor gery word.
Amor en Frank het die kinders aangemoedig om mense met gestremdhede soos gewone mense te hanteer, maar wel bedag te wees oor die uitdagings wat hulle in die gesig staar.

Die Voortrekkers was tydens die gebeurtenisse geprys vir hulle poging om genoeg bottelproppies in te samel om sodoende rolstoele vir mense wat dit mag nodig hê te verskaf. Gedurende 2021 kon die Suiderlig Kommando twee rolstoele aan twee aftree-oorde skenk. Hierdie is ’n jaarlikse projek wat die Voortrekkers behartig.
Die QuadPara Vereniging het homself ten doel gestel om besoeke aan 18 laer- en hoërskole te bring en hulle boodskap oor te dra. Skole en ander jeugorganisasies wat sou belangstel, kan Engelie Botha by 082 332 7717 skakel.



