JP se grootste droom bewaarheid
Kleinkind daag by matriekafskeid op met kar wat sy oupa sowat 18 jaar gelede gebou het.
JP Schroeder se 2022 matriekafskeid was ekstra spesiaal omdat hy met ‘n motor wat deur sy oupa, Tommie Prinsloo gebou is, kon gaan.
Hy is ‘n matriekleerder van Hoërskool Marais Viljoen,
Die ‘Cobra’, soos vernoem deur oupa Tommie, is al 18 jaar oud en het nog elke jaar matrikulante na hulle matriekafskeid vervoer.
Oupa Tommie was nog altyd ‘n motor entoesias en het van kleins af sy ma se motor gery, reggemaak en opgradeer.
“Motors is sy lewe lank al ‘n passie. Omdat dit ‘n stokperdjie was, het hy dit geniet en baie tyd daaraan spandeer,” het sy dogter, Erica Schroeder vertel.
Dit was sy lewensdroom om ‘n Cobra te bou. In 2004 het die lewe sy skewe kant vir oupa Tommie gedraai en sy terapie was om die monster AC Cobra te bou.
Agtien maande se slapelose nagte later en die Cobra is klaar en reg vir die pad in 2006.

In hierdie einste Cobra het oupa en ouma vier keer hulle sakkies gepak en die pad Kaap toe gevat
Later nadat die Cobra klaar gebou was, het hy ook wedrenne gery vir Team Cobra. Hy het die binnelandse reeks vier keer op Kyalami en Zwartkops gewen.
“Nooit het dit eers by oupa opgekom dat hierdie Cobra geskiedenis in die familie sou maak nie.”
In 2011 moes Tommie skielik ‘n hartomleiding kry en kon daarna nie meer werklik die kar onderhou en mooimaak nie, omdat hy bietjie verswak het.
“Toe kom sy skoonseun met die voorstel om die Cobra te koop vir ons dogter wat net so erg was oor die kar as haar pa. So het die jare aangestap en sy kleinseun, JP, word groot en skielik is hy in matriek.

“Dit was so half vanselfsprekend dat hy en sy metgesel die Cobra sou gebruik.”
Nou is oupa Tommie al 67 jaar oud en nog steeds helder sy oë op wanneer hy oor motors en spesifiek sy Cobra, gesels.
Die aankoms van die jaar
“Vandat ek ‘n laaitie was wou ek die Cobra gehad het as my matriekafskeid kar. Ons het die kar en ek wou graag met hom ry,” het JP vertel.

Volgens hom is dié motor een van die grootste redes waarom hy sy bestuurderslisensie so gou moontlik wou kry.
“Dit het nostalgies gevoel om met dié kar te ry, asof dit vir my gemaak is. Ek het my hele lewe grootgeword in en om dit. Dit het my ook dankbaar gemaak vir my pa en oupa, van wie ek so baie geleer het van karre,” het JP gesê.
JP het sy matriekafskeid as baie spesiaal beskryf.
“Wat ‘n ‘entrance’ was dit nie. Kompleet met die voet op die versneller sodat almal begin skuiling soek vir die lawaai wat hierdie Cobra kon opskop. Dit was die hoogtepunt van die dag, behalwe natuurlik die matriekafskeidsfunksie,” het JP gesê.




