KYK: Kevin se droom is nou ‘n realiteit
Kevin Olckers wen kategorie by Afri-Indie Onafhanklike Kunstenaartoekenningsaand.
Van musiekinstrumente speel tot sing totdat jy hoendervleis kry is presies die rede hoekom Kevin Olckers (15) doen wat hy doen.
Die jong man het onlangs weggeloop as die katergorie-wenner van die Afri-Indie Onafhangklike Kunstenaartoekennings.
Hy het oorspronklik vir twee kategorieë ingeskryf naamlik beste tradisionele album en beste instrumentele album.
Die Alberton Record het by Kevin gaan inloer om meer uit te vind oor die toekenning, sy loopbaan en sy toekomsplanne.
Musiek loop deur sy are
Kevin het grootgeword in ’n baie talentvolle familie wie almal ’n groot passie vir musiek het. Musiek is letterlik sy tweede taal.

Sy pa Jurie is ’n bekende musikant wat al saam met groot kunstenaars opgetree en gewerk het.
Hy het van ’n jong ouderdom af begin dromme en konsertina speel. Hy het onder andere die gewilde Rassie Erasmus, beter bekend as die Konsertina Koning, se konsertina ontvang.
Die jaar 2022 was ‘n groot jaar vir hom omdat hy in Desember uiteindelik sy eie album kon vrystel.
Die hele proses om die album klaar te maak het langer gevat as wat hy gereken het omdat daar vele uitdagings was waarvan Covid-19 een was.
“Ons het baie familie-lede aan die dood afgestaan en dit was regtig net ‘n moeilike tyd,” het hy vertel.
Maar ‘n paar rand later, baie laat aande en harde werk is sy album in Desember vrygestel.
“Ek kan nie beskryf hoe ek voel nie, dit voel onwerklik. Dit is ‘n droom van my wat waar geword het.”
Die album het ‘n verskeidenheid van ultra modern boeremusiek snitte op wat deur jonk en oud geniet kan word.
“Een van my gunsteling snitte is Biltong en Braaivleis. My musiekvideo spreek boekdele oor hoekom ek mal is oor die spesifieke liedjie. Ek staan voor die Voortekker Monument en dit wys my pad van kultuur en geskiedenis. Dit wys hoe trots ek is.”
Nog ‘n liedjie wat na aan sy hart lê is Helpmekaar, ‘n vastrap wat geinspireer is deur sy skool se motto “Die Helpie way” samesein, hulvaardigheid en oor ons mense in Suid-Afrika wat almal moet hande vat en saam staan.
Volgens hom is musiek meer in die hart as die brein en sy musiek het hom al baie deur moeilike tye gedra.
Loopbaan toekennings
Die lys van toekennings wat die jong kunstenaar al ontvang is baie lank maar daar is ’n paar wat uitstaan.

In 2021 is hy as Leeupoort se beste opkomende musikant aangewys en die bekende Brink Botha het self die toekenning aan Kevin oorhandig.
Hy het in 2022 ’n A+ ontvang vir sy deelname aan Music National Arts Festival wat hom laat kwalifiseer het om aan Kids Got Talent deel te neem
In dieselfde jaar het hy ook sy skool se talentkompetisie, Helpies Got Talent, gewen en as die algehele wenner weggestap.
Kevin deel ook jaarliks aan die Eisteddfodd kunswedstryde deel en behaal niks minder as ‘n A++ nie.
Kevin wil boeremusiek weer laat leef

“Boeremusiek is besig om te stagneer en dit is my missie om dit weer ‘cool’ te maak sodat almal dit kan geniet.”
Tans is hy besig om aan sy nuutste album te werk waar hy vir eers die konsertina en dromme gaan neersit en meer op sy sang gaan fokus.
“Ek is mal daaroor om te skryf, en ek praat nie van gedigte nie, mar liedjies. Ek skryf graag oor dinge van die lewe en my eie lewenservaringe. Dinge waarmee mense kan verband hou.”
Vir Kevin voel dit asof hy baie meer emosie kan uitbeeld deurmiddel van sang.
“Ek wil boeremusiek laat aanhou leef en ek wil he ander moet dit ook geniet soos wat ek dit geniet.”
Groot dinge oppad

Daar is so baie wat Kevin wil doen en nog bereik. Hy wil mense inspireer met sy musiek en hy wil ‘n verskil in die land maak.
“Ek wil mense wys dat hulle nooit moet opgee nie al is dinge hoe moeilik. “
Musiek is definitief deel van Kevin se toekoms en hy is opgewonde oor dit wat nog kom.
Sy ouers beskryf hom as ’n baie talentvolle seun wat ’n natuurlike aanvoeling vir sy musiek het.
Kevin beskryf musiek as iets wat uit sy hart uit borrel.
Hy beoog hy om in ‘n mediese of wetenskaplike rigting na skool te studeer.
“Daar is nog ‘n paar dinge in die pyplyn wat wag vir my, maar vir eers gaan ek dit stil hou en die land verras.”
Sy grootste inspirasie is sy pa Jurie. “Watter seun kyk nie op na sy pa nie?”
Jurie inspireer Kevin die meeste omdat hy hom geleer het om altyd nederig te wees.
Kevin – die grapjas

Hy is in Pretoria gebore en die gesin bly al langer as elf jaar in Alberton. Die jong opkomende musikant is ’n leerder van Helpmekaar Kollege.
Kevin is die jongste van drie kinders en tussen sy ouer broer en suster is hy die enigste aktiewe musikant.
In sy vrye tyd speel hy graag videospeletjies, hy hou ook van visvang, jag en hy kamp graag.
“Ek spandeer ook graag tyd saam my familie en vriende.”
Die lewe vir die jongman is redelik besig tussen sy musiekloopbaan en skoolloopbaan, maar hy vat alles in die lewe soos dit kom.
Hy is ook ‘n kranige rugbyspeler.
Iets wat mense nie van Kevin weet nie is hoewel hy mal is daaroor om rondom mense te wees, geniet hy dit ook om op sy eie te wees.
“Ek hou van mense en veral om hulle te laat lag. Ek hou van raad gee vir ander maar as dit by myself kom sukkel ek so effens,” het hy laggend gesê.
Kevin laat ‘n mens lag in die eerste vyf minute van ’n ontmoeting.
Dit voel ook soms vir hom of mense net die grapjas kant van hom ken en nie die diep kant nie.
Interessante feite oor Kevin Olckers

• Vir hom is musiek soos ‘n taal en hy beskryf dit as ‘n legkaart waar jy al die stukkies benodig om die finale prentjie te hê.
• Een van sy familie-lede en ook bekende professionele dromspeler en musikant bied Kevin se dromklasse aan.
• Kevin skryf al sy liedjies self.
• ‘n Konsertina word ook ‘n krismiswurm genoem.
• Elke nootjie van ‘n konsertina klink anders met die in en uit beweging.
• ‘n Konsertina het ‘n windklawer wat benodig word om lug in die instrument se boeke te trek sodat die fluitjies binne kan vibreer.





