De Landauer Kothuis Kombuis skitter op nasionale TV in Konings van Kitskos
In hierdie kosprogram, soek Suid-Afrika se eie 'Baby Tjoklits' ,Gerhard Steyn, en akteur Alvin Bruinders die beste as die kitskos en unieke restaurant in die bedryf.
De Landauer Kothuis Kombuis in Alberton Noord het onlangs die nasionale TV-skerm betower toe dit op die gewilde kosprogram, Konings van Kitskos op Via, verskyn het.
Die tjommies Alvin Bruinders en Gerhard Steyn het ‘n opwindende dag deurgebring terwyl hulle die smaaklikste kitskos geniet het en die karakters agter hierdie unieke disse ontmoet het.
‘n Opwindende dag
Marinda Visser, die eienaar van De Landauer, het opgewonde vertel hoe hulle gekies is na ‘n aanbeveling deur ‘n geheime aankoper.
’n Week later het die span by die restaurant gaan kuier.
Die span het vroeg opgedaag om seker te maak daar is genoeg tyd om alles te verfilm wat De Landauer aanbied.
Die episode is op 25 Januarie uitgesaai, waar die restaurant se unieke disse, waaronder die breakfast potjie, spicy chicken liver pannekoek en sweet and fruity flapjack die kollig gesteel het.
“Dit was ‘n belewenis, maar ook baie senutergend want ’n mens wil hê alles moet so perfek as moontlik wees,” het Marinda gesê.
Sy het op die dag ook die TV-span met peuselhappies bederf en dit was ‘n suksesvolle dag.
“Dit is ‘n eer om gesien te word as een van die land se unieke restaurante,” het mede-bestuurder, Matthys Theron vertel.
Van toeka tot nou
De Landauer Kothuis Kombuis, wat in 1995 oopgemaak het, bly ‘n landmerk in Alberton Noord en lok gaste met ‘n bekostigbare spyskaart. Marinda, wat die restaurant al 12 jaar bedryf, het ‘n groot passie vir kook en mense.
Marinda is die vierde eienaar in die 29 bestaansjare.
“Ek het nog altyd ‘n passie vir kook en mense gehad en met my werk kan ek albei passies uitleef.”
Marinda het voorheen vir meer as 1 000 Voortrekkers gekook.
“Ek hou van nuwe resepte en ek hou daarvan om mense met kos te bederf.”
Hulle is bekend vir hulle boerekos tradisies asook die lekkerste pannekoek op die dorp.
In 2022 is hulle ook deur die publiek aanbeveel op Restaurant Guru.



