Local news

Alberton sanger reik na die sterre

'n Mens kan hom sekerlik as 'n man van vele talente beskryf wat blykbaar ewe gemaklik in die kombuis, agter die houtwerktafel of met sy kitaar in die hand is.

Vivien Redelinghuys het einde Mei sy eerste Afrikaanse liedjie, Jonk & Danig die lig laat sien.

Dié liedjie, vertel hy, is in sy studentejare saam met ’n vriend geskryf nadat hulle die geleentheid gekry het om by die Diaz Somerfees op te tree.

“Ons wou graag ’n oorspronklike liedjie skryf om by die feesterrein te sing. Uiteindelik is ons ook deur die gevoel van kosbare tye en herinneringe saam met vriende en familie geïnspireer.

“Die liedjie herinner ’n mens om in die oomblik te leef. Dit is die gevoel wat ’n mens op ’n spesifieke tyd kry; dáái gevoel en tyd wat ’n foto nie kan vasvang nie. Jy moet daar wees om dit te beleef,” het hy gesê.

Vivien sê op daardie gegewe tydstip is ’n mens vry en niemand anders kan jou gemoed onderkry nie.

“Dis eintlik maar ’n huldeblyk ook. ’n Mens waardeer die emosies wat jy ervaar. Jy lewe vir nou en dit wat jou gelukkig maak.”

Hy het die alternatiewe enkelsnit verlede jaar in Zaan Sonnekus se Son Studios opgeneem.

Die musiekant

Hy is in Alberton gebore en getoë; het aan die Hoërskool Marais Viljoen in 2018 matrikuleer en woon steeds in Alberton.

Die vierjarige Vivien Redelinghuys besig om ‘n groot konsert vir die familie te hou.

Vivien is op vierjarige ouderdom ’n klein kitaar in die hand gestop en hy het kort daarna konsert begin hou vir sy familie op sy grootouers se bed.

Sy passie vir musiek het as ’n peuter begin nadat sy ma hom na ’n Watershed optrede geneem het. Daarna het sy oupa die klein kitaar en ’n mondfluit vir hom gegee.

“Ek het meestal op die kitaar geslaan en probeer sing, maar ek het gedink ek is die kat se snor.”

As tiener het hy homself leer klavier speel en as 18-jarige het hy besluit om ernstig te raak oor sy musiekloopbaan.

“In my eerste jaar het ek gesien wat musiek vir mense beteken en hoe dit mense kan saambring. Toe het my liefde daarvoor rêrig vlamgevat.”

Hy het so paar jaar terug ook ‘n Engelse liedjie, Never Say Goodbye, vrygestel.

Op ‘n persoonlike noot

Vivien werk as ‘n menslike hulpbronne klerk by ‘n alternatiewe kragmaatskappy in Roodepoort.

“Op ‘n daaglikse basis is ek besig om interne konflik uit te sorteer, onderhoude met mense te voer en nuwe mense in die maatskappy aan te stel.

Vivien Redelinghuys tydens ‘n optrede.

“By die huis is ek ‘n baie rustige mens wat hou van kosmaak, braai en TV-reekse kyk. Ek is mal oor houtwerk; nie dat ek baie goed is daarin nie, maar ek geniet om dit te doen. Kitaar speel, musiek skryf en liedjies uitwerk en oefen is vir my ook lekker.”

En soos vele ander, het Vivien en die liefde in sy lewe besef dat ‘n mens iewers die remme moet aandraai en net tyd maak vir rustig wees.

“Die lewe beweeg heeltemal te vinnig en ek en my meisie het besluit om ‘n tree terug te neem en op naweke te begin parkruns doen en ‘hike’ om net asem te haal en die lewe om ons te waardeer.

“Ek is nog nie getroud nie maar is vanjaar al vir nege jaar in ‘n verhouding en ongelooflik gelukkig. My meisie is definitief die persoon wat ek die res van my lewe mee wil aanpak.”

As jy gewonder het of alles net maklik kom vir hom, dink weer want hy erken ruiterlik dat hy ‘n vrees vir die donker het. “Of altans vir goed wat in die donker wegkruip, asook spinnekoppe.”

Musiek, inspirasie en beplanning

“Ek sukkel om te sit en skryf maar wanneer ek wil skryf is dit ‘n baie spontane oomblik waar ek ‘n liedjie kan skryf van ‘n klein idee af of iets wat ek gesien het. Ek lees gereeld Danie du Toit van Spoegwolf se digbundels en dit help met die skryf. Ek luister verskeie Amerikaanse country sangers se musiek vir inspirasie.”

Hier is waar Vivien Redelinghuys tuis is, op die verhoog, kitaar in die hand.

Sy rolmodelle is Zach Bryan, die Amerikaanse countrysanger, en Spoegwolf.

Maar hoe gemaak wanneer jy weet daar lê ‘n groot optrede voor? Wat sing jy? Hoe weet jy of die regte liedjies vir die regte gehoor beet het?

“Op die oomblik is die meerderheid van my setlys gebasseer op ‘covers’, maar soos wat ek meer musiek begin uitbring inkorporeer ek dit by my setlys.

“Mens kan definitief sien of die gehoor geniet wat besig is om te gebeur en of hulle nie doen nie. En so kan mens jou liedjie keuses maak vir die res van die optrede. Met elke optrede beplan ek ‘n setlys, maar dit is baie keer ‘n spontane oomblik wat die hele lys verander.”

Groot oomblikke

“Daar is ‘n foto waar ek oor die reling gespring het op die luidsprekers voor die mense. Dit was by die Diaz Somerfees geneem toe ons die ongelooflike geleentheid gegee is om vir ‘n klomp groot kunstenaars te gaan open by verskeie feeste.

“Dié spesifieke foto by Diaz was geneem toe ons vir die bekende sangroep Neon Dreams geopen het. Daar was omtrent 5 000 mense. Die hele oomblik was net ‘crazy’ en dis tot dusver my gunsteling optrede.”

Wat die toekoms inhou

“My plan vir die toekoms is beslis om meer musiek uit te bring en om meer musiek te maak as net ‘n naweek ‘gig’. Dit was nog altyd ‘n droom van my is om mense deur my musiek aan te raak.

“My passie lê nie net by sang nie, maar ook vir arbeidsverhoudinge. Ek het my graad in BA Sosiologie en Arbeidsverhoudinge aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus verwerf. Ek wil verseker dat ek ook in dit floreer en sukses behaal en beslis ook eendag my eie maatskappy besit.”

En as hy raad aan die jongklomp kon gee?

“Ek is self nog nie te lank in die bedryf nie so ek weet nie eintlik nie, maar wat ek wel kan sê is bly wie en wat jy is. Dis nie die moeite werd om jou siel te verkoop vir die gehoor en of om geld in te bring nie. Onthou net, die musiek wat jy maak vertel ‘n storie van wie jy is.”

Vivien se enkelsnit is op alle groot platforms soos Apple Music, Spotify en YouTube Music beskikbaar. Jy kan hom ook volg op Facebook, Instagram en Tiktok.

Related Articles

 
Back to top button