Alberton-Oos oorhandig warm geskenke aan Stepping Stone Hospice
Die Vrouediens van die Alberton-Oos gemeente het in goedhartigheid uitgereik na Stepping Stone Palliative Care Services deur pragtige klere-items vir hul pasiënte te skenk.
Die vrygewige duo van die Vrouediens, NG Alberton-Oos gemeente, Marié Breedt en Sonja Coetzer het ‘n skenking wat in liefde gemaak is aan die Hospice gemaak.
“Aangesien Stepping Stone Palliative Care Services steeds ‘n plek is waarheen gesinne hulle wend vir die beste moontlike lewenskwaliteit van hul geliefdes, het Vrouediens van die gemeente besluit om vertroosting en warmte aan hul pasiënte te bring,” het Marié Breedt gesê.
Die vrygewige duo van die gemeente het 47 truie, 14 komberse, vyf teddies, 10 stewels, babygrows en mussies aan die Hospice geskenk.
Hul pragtige items sal vreugde versprei en broodnodige vertroosting bied aan jonger en ouer pasiënte.
Tersia Burger, uitvoerende hoof van Stepping Stone Palliative Care Services, het gesê: “Ons is dankbaar teenoor die gemeente wat liefde aan ons pasiënte versprei. Die geskenke sal beslis vertroosting en warmte aan ons pasiënte bring, veral gedurende die koue wintermaande. Ons waardeer enige vorm van ondersteuning of skenkings wat ons gemeenskap kan bied.”
Sy het herhaal dat hul hele span beide emosionele en geestelike ondersteuning bied om hul pasiënte interne vrede en vertroosting te bied, benewens hul uitstekende mediese sorg.
Indien jy ‘n skenking aan die entiteit wil maak, kontak Tersia by 083 251 9605.



