Org Meyer Voortrekkers wys dat omgee steeds saak maak
Org Meyer Voortrekkers bevestig hul betrokkenheid by gemeenskapsdiens met Projek Saamstaan.
Org Meyer Voortrekkers het op 17 Oktober hul betrokkenheid by gemeenskapsdiens weer bevestig met die oorhandiging van die Projek Saamstaan-skenkings aan Rata Maatskaplike Dienste.
Die geleentheid is geopen deur Ds Francois Meyer, waarna Willie-Waldo Kühn ’n oorsig gegee het oor Die Voortrekkers se Ons Gee Om (GOM)-projekte.
Kühn het verduidelik dat die GOM-projek daarop gemik is om diensbaarheid en betrokkenheid in gemeenskappe aan te wakker, en om Die Voortrekkers van alle ouderdomme te herinner dat geloof en om ’n hand te gee, hand aan hand loop.
Een van die hoogtepunte van die aand was toe Trisdun Robbetze (’n Vorie in die Olifante-span van Org Meyer Voortrekkers), stigter van Projek Saamstaan, gevra is wat die projek vir haar beteken. Haar antwoord het almal diep geraak:
“Dit het my gelukkig gemaak om meer glimlagte op mense se gesigte te sit, en die lewe net ’n bietjie beter te maak.”
Die gesamentlike skenkings is met groot dankbaarheid ontvang deur Pieter Schrieber, wat namens Rata Maatskaplike Dienste teenwoordig was. Hy het verduidelik dat Rata afgelei is van die Sesotho-woord vir liefde, en dat die “T” in hul handerlsmerk simbolies die kruis van Christus voorstel – ’n herinnering dat elke daad van gee in Christus se liefde geanker is.
Schrieber het met groot waardering gesê: “Ek wil net dankie sê vir die omgee-projek. Hierdie projek gaan oor gemeenskap, en gemeenskap is vir ons baie belangrik. Orals waar ons bly, is daar verskillende gemeenskappe – binne ’n groot gemeenskap is daar kleiner groepe, soos ’n aftreeoord, kinderhuis of selfs hawelose mense wat hul eie gemeenskap vorm.
“Hierdie jaar het ons besluit om op kinders te fokus wat nie Kersgeskenke ontvang nie. Omdat ons by Rata baie met kinders werk, het ons ’n terapie- en speelkamer waar ons hulle deur spel leer ken. Baie van die kinders neem die speelgoed huis toe omdat hulle self niks het nie.
“In die afgelope tyd het vier gesinne in ons gemeenskap hul huise verloor in brande, meestal weens armoede en die gebruik van kerse of gas. Daarom gaan ons vanjaar, saam met Projek Saamstaan, vir sowat 50 kinders geskenkpakkies en ’n Kersete reël.
Van die speelgoed sal in ons terapie-kamer gebruik word, en van dit neem die kinders weer huistoe. Hierdie projek bring soveel hoop en wys dat eenvoudige dade van gee ’n groot verskil kan maak.”
Die aand het afgesluit met ’n atmosfeer van trots en dankbaarheid. Org Meyer Voortrekkers bedank almal wat op enige wyse bygedra het – of dit deur donasies, insluitend boeke, klere en speelgoed, tyd of ondersteuning was.
Hierdie samewerking wys dat diensbaarheid nie groot gebare verg nie, net ’n hart wat bereid is om te gee.
Hoewel hierdie oorhandiging die afsluiting van ’n suksesvolle hoofstuk is, is dit nie die einde nie. Org Meyer Voortrekkers het aangekondig dat die projek in 2026 voortgesit sal word, nadat die duidelike impak daarvan in die gemeenskap gesien is.
Die span beplan ook om ’n Kersete vir die kinders ’n werklikheid te maak, en doen ’n beroep op die publiek om te help. Enigiemand wat graag ’n bydrae wil maak of betrokke wil raak, kan Christa Robbetze kontak by 076 090 1683 of ’n donasie maak aan First National Bank, takkode 250655, rekeningnommer 63027335008, met jou verwysing: Kersete.
Dankie aan borge
Rata Social Services vir die raad en advies wat hulle gegee het aan Trisdun met betrekking tot Projek Saamstaan
DPS Pleegsorg vir die raad en advies wat hulle gegee het aan Trisdun met betrekking tot die projek
Stuttaford Van Lines vir die hulp met bokse
Elke bydrae, groot of klein, help om hierdie kinders se Kersfees onvergeetlik te maak.
Raak betrokke
Met die GOM-inisiatief (Gee Om vir My gemeenskap) word elke Voortrekker aangemoedig om ’n verskil te maak, groot of klein, daar waar jy woon.
• Help om ’n park of rivier skoon te maak
• Reël ’n kos- of klere-insameling
• Bring tyd deur saam met bejaardes
• Borg skryfbehoeftes vir kinders
• Help by ’n dierebeskermingsorganisasie
• Plant bome of inheemse plante
• Pak Kersfeesboksies vir gesinne in nood
Vir meer inligting, besoek www.voortrekkers.co.za of kontak admin.orgmeyer@oosvaal.voortrekkers.co.za




