Braaf die Boerboel leer Alberton se laerskole oor moed en welwillendheid

Braaf die Boerboel het by verskeie Alberton se skole gekuier.

Braaf die Boerboel, die geliefde hond van Solidariteit Helpende Hand, het onlangs Alberton se laerskole met ‘n spesiale missie besoek.

Braaf wou die leerders leer dat ware dapperheid nie net in selfvertroue lê nie, maar ook in die bereidheid om ander te help, veral dié wat minder bevoorreg is. Hy het beklemtoon dat jy braaf is wanneer jy help en gee.

Braaf het verduidelik dat dit braaf is om vir ‘n onderwyser te sê wanneer kinders geboelie word of gespot word, en dat dit ook braaf is om jou kospakkie te deel met iemand wat niks het om te eet nie.

Hy het die kinders aangemoedig om ‘n gesindheid van welwillendheid te kweek.

Die besoek aan Alberton se skole was ‘n groot sukses, met kinders wat Braaf vriendelik ontvang het.

Hulle het kans gekry om met hom te gesels en hom te vryf voordat hy na sy volgende bestemming in ‘n ander provinsie vertrek het.

Meer oor Braaf die Boerboel:

Braaf die Boerboel is ‘n splinternuwe held met ‘n skouermantel, soortgelyk aan Superman, maar in kakie geklee.

Braaf die Boerboel het by Alberton se skole gekuier.

Die Afrikaanse musiekgroep Jan Jan Jan het reeds ‘n liedjie oor hom geskryf getiteld Braaf soos ‘n Boerboel, en hy gaan binnekort sy opwagting in ‘n eksklusiewe strokiesprent maak.

Braaf die Boerboel is die skepping van Boerboel Wear en dien as die gesig van Solidariteit Helpende Hand se Skooltassie-projek. Hierdie projek voorsien jaarliks skooltassies vol skryfbehoeftes aan behoeftige Graad Eens.

Helpende Hand doen ‘n beroep op die publiek om te help om volgende jaar minstens 2 000 skooltassies landswyd te versprei.

Besoek www.tassie.co.za om ‘n skenking te maak of koop ‘n Braaf-T-hemp by www.boerboelwear.co.za om die inisiatief te ondersteun.

Met Braaf se inspirerende besoeke en die positiewe boodskap wat hy uitdra, word kinders aangemoedig om met moed en deernis op te tree en ‘n kultuur van welwillendheid te kweek.

 

Related Articles

 
Back to top button