Enkellopendes uitgenooi om te dans
Renévive is 'n opwindende dansklub in Benoni, waar René Borchers al vir 24 jaar sosiale dansaande vir enkellopende persone oor 30 jaar oud reel.
Dit het begin nadat haar eerste man, Bunty, oorlede is en haar vriende haar, as enkelpersoon, aangemoedig het om besig en aktief te bly.
Sy en haar man was albei opgeleide baldansers.
Sy is tans weer getroud, met David Savage, wat haar bystaan met die reel van die dansfunksies.
Danse vind Dinsdagaande by die John Barrablesaal plaas en sluit in langarm-(sokkie) en baldanse.
Die eerste week van elke maand is dit ‘n “Country en Western”-tema,wat René meen nogal baie gewild is.
Dit is alleenlik ’n sosiale bymekaarkomplek.
Ander tema-aande sluit in ‘n Valentynsbal, Winter- Lente- en Kersfeesdanse, en ook temas soos rugbydanse.
Volgens René het hierdie dansklub al baie mense se lewens positief verander.
Sy het verduidelik dat daar ‘n groot behoefte vir ‘n bymekaarkomplek vir enkellopendes is, aangesien baie nie deelname aan enige sportsoort het nie.
René het ‘n sagte plek in haar hart vir Benoni en was in die 1980s die stad se direkteur van publisiteit, en het in 1983 die Benoni Jaycees Distinguished Service Award vir haar bevordering van Benoni verwerf.
Dié is deur vele ander prestasies gevolg, en René het steeds ‘n passie om ‘n verskil in die lewens van mede-Benonianers te maak.
“Van ons lede het al gedurende die jare hulle lewensmaat ontmoet en sommige het ook al kommentaar gelewer dat dans ‘n manier is om die ekstra kilos te verloor,” het René ons meegedeel.
“Dans word nou as ‘n ‘sport’ beskou en is vandag een van die mees gewildste sportsoorte in die wereld.
“Dit is baie ontspannend en is ook ‘n manier om nuwe vriende te maak.”
Daar word ook geglo dat die terapeutiese waarde van dans nie na waarde geskat word nie.
René het gesê dat navorsers uiteindelik op wetenskaplike gebied erkenning gegee het aan die gesondheid- en stres-verligting van genotvolle ritmiese oefening van dans wat veral tegniek, energie en stamina verg.
Die danssportaande begin om 8nm en nuwe lede word verwelkom.
Vir verdere navrae, kontak vir René by 082 482 0388.



