Ma, dogter en kleindogter het sak en pak Moedersdag gevier terwyl hulle die Visrivier Kuil staproete in Namibië aangedurf het.
Voormalige Boksburg inwoners, wie tans in Benoni woon, Martie de Bruyn (73), Vicky Visser (47) en Melissa Visser (26), het besluit on die 85km roete aan te pak en sodoende drie generasies van stappers te vier.
Martie stap al vir 25 jaar en het in 2017 reeds die Kuil voltooi saam met Melissa.
“Ons is ‘n baie gehegte gesin en toe Vicky sê sy wil dit ook aandurf het ons die geleentheid aangegryp om dit saam te doen,” het Martie gesê.
“Ek stap al vir jare en het al van ons land se mooiste roetes gesien, maar die Visrivier Kuil was besonders omdat ek my hartsmense saam met my gehad het.
“Dit was ‘n moeilike vier dae, maar die saam lag, aanmoediging en om die groot rustigheid saam te beleef, het dié beslis een van die beste ondervindings gemaak.”
Volgens Vicky, die groentjie van die drie, was die vyfdag roete wat hulle in vier voltooi het, uitdagend en baie moeiliker as wat die glans brosjures dit laat lyk het.
“My ma is ‘n yster vrou en dus moes ek maar tong byt en vasbyt, maar die samesyn het dit een van die mees onvergeetlikste naweke gemaak,” het Vicky gesê.
Moedersdag was beslis volgens die dames besonders toe hulle twee Namib wilde perde gewaar het op die oewer van die rivier.
“Ons het in stilte gekyk hoe dié twee manjifieke diere rustig die rivier gekruis het. Dit was ‘n belewenis,” het Martie gesê.
“Dit is oomblikke soos dit wat jou laat besef hoe nietig ons is. Ons jaag dag na dag, maar vergeet soms om net stil te raak en die prag wat die lewe offer te geniet en opreg te waardeer.”

Al drie vrouens stem saam dat hulle gedurende die avontuur geleer het dat hulle elk nuwe kuils van mekaar se persoonlikhede ontdek het.
“My ma is uiters sterk en vasbeslote op haar ouderdom,” het Vicky gesê.
“Geen uitdaging is te groot nie, ek is baie trots om haar as my ma te hê.”
Van Vicky sê Martie het sy gesien hoe haar dogter se uithouvermoë haar gedryf het om nie net die roete te voltooi nie maar ook om elke oomblik van dit in te neem en geniet.
Die trio beoog om binnekort die dag roete in Memel, Vrystaat, saam aan te pak.
LEES OOK: Hike back in time on Melville Koppies
LEES OOK: Double the blessings for local mothers








