Ballerina gereed om in Alpe te dans
Met ‘n arabesque, dans Mikayla drome na.
Terwyl haar maats teepartytjies en teddiebeer pieknieks geniet het, het ‘n klein suikerpruimfeetjie van Northmead haar eerste plié bemeester.
Nou, bykans agt jaar later, maak Mikayla van Heerden gereed om haar buiging op die internasionale verhoog te maak.
Met haar hare teruggekam in ‘n stywe bolla, vertel die tiener met groot opgewondenheid hoe sy aan die einde van Junie na Switserland vertrek om deel te vorm van die Mzansi Ballet & Ticino Sound-balletgeselskap.
“Ek was vyf toe ek my eerste tutu en balletskoene aangetrek het en het op daardie oomblik geweet dat ek ‘n prima ballerina will wees,” het die saggesproke tuisskool leerder gesê.

“Ek het verlief geraak op die vloeiende beweegings wat epiese verhale kan vertel.”
Getooi in ‘n robynrooi kostuum, vertel sy hoe sy gekies is as een van net agt babaswane (junior dansers) wat die toer gaan meemaak na die land van sjokolade en koekoekhorlosies.
“Ek dans al sedert 2023 by Mzansi. Dit is hier, onder die leiding van Angela Revie, waar die deure van geleenthede vir my begin oopgaan,” het sy gesê.
“Met die opkomende toer gaan ons in Lugano optree om onder andere produksies soos The Golden Rhino of Mapungubwe, The Magic of Dance en Carmen ten toon te stel.”
Met haar grootste ondersteuners, ma Yolandi en pa Michael, aan haar sy, sê die selfverklaarde adrenalienverslaafde dat sy dié geleentheid gaan gebruik om haar tegniek op te skerp tot dié van die senior dansers.
“Om ballet te doen verg toewyding en passie. Elke pointe en pirouette dra by tot die vertolking van die vertoning,” het sy gesê.

“Dit is nie slegs bewegings op die maat van die musiek nie, maar die oordrag van emosie. Jou liggaam is die verteller.”
Met somer wat wink in die noordelike halfrond, sien Mikayla verder daarna uit om die Switserse kultuur ten volle te geniet.
“Tussen repetisies en na vertonings gaan ons hopelik genoeg tyd hê om die stad te verken en blywende herinneringe te skep,” het sy met ‘n glinster in haar oë gesê.
“Dié is die toekoms wat ek vir myself wil bou. Een waar ek om die wêreld kan toer en my passie op die punte van my tone kan uitleef.”
ALSO READ: WATCH: Ballerina hangs up pointe shoes after show-stopping career
ALSO READ: WATCH: Orchestral ballet show dazzles the audience







