High SchoolKidsLocal newsNews

Moories vier 100% slaagsyfer

‘n Totaal van 120 slaagsyfers met universiteitstoelaating is verwerf.

Met vreugde het Hoërskool Hans Moore se Klas van 2025 hul matriekuitslae op 13 Januarie ontvang en die skool het feesgevier met ‘n 100% slaagsyfer – die eerste keer in 21 jaar.

Skoolhoof Mike Mearns, wat aan die begin van 2024 die leisels by Jan Harm Hattingh oorgeneem het, het glimlaggend toegekyk hoe sy matrieks vir die laaste keer die skoolterrein binnetree.

“Ek is trots op dié groep. Hulle het my verwagtinge oortref,” het hy gesê.

Meisie staan met 'n papier in haar hande
Juanise van der Walt het nege onderskeidings verwerf en gaan aktuarieële studies by Wits studeer. Foto: Jani de Beer

“Onder die leiding van die onderwysers was hulle vasberade in hul studies. Wow! Ek het nie woorde nie.”

Die toppresteerders Juanise van der Walt en Zani van Rensburg, wat elkeen nege onderskeidings verwerf het, sê hul uitslae kan toegeskryf word aan drie jaar van swoeg, sweet en trane.

“Ek het talle ure aan hersiening bestee en hope ou vraestelle deurgewerk,” het Juanise gesê.

“Alhoewel ek baie van my tyd aan my studies toegewy het, het ek verseker dat ek ook tyd gemaak het vir die dinge wat ek geniet.”

Sy het verder gesê dat sy trots is op haar 170 medeleeders wat daartoe bygedra het dat die groep die skoolgeskiedenis herskryf het.

Vir Zani was 2025 ‘n jaar van opofferings.

Meisie staan met 'n papier in haar hand
Nege onderskeidings vir Zani van Rensburg. Sy gaan forensiese ouditering by die Noord-Wes Universiteit swot. Foto: Jani de Beer

“Ek het myself aan my boeke gegrendel. Ek sou met niks minder as nege onderskeidings tevrede gewees het nie.”

Vir Jordan Liebenberg en Kiran Gopal, wat elkeen sewe onderskeidings behaal het, was hul matriekjaar een van herinneringe maak asook om akademie vir ‘n kishou te slaan.

“As hoofmeisie wou ek my skoolloopbaan afsluit met ‘n bundel vol goeie herinneringe,” het sy gesê.

“Revue was my afleiding. Op die verhoog was ek vry van enige eksamenangs en kon net in die oomblik wees.”

As ‘n man van min woorde het Kiran gesê hy is trots op sy prestasies.

Seun staan met sy arms gevou
Hoofspeler in verlede jaar se Teenage Wasteland-revue, Kelvin Coetzee sien uit om aan die 2026 iPOP talentsoektog, in Hollywood deel te neem. Foto: Jani de Beer

Terwyl dié Mooriegroep nou gereedmaak om die wêreld van werk en studies te betree, is Kelvin Coetzee se kop in die sterre.

Die hoofspeler in verlede jaar se Teenage Wasteland-revue, het sy paspoort in die hand om aan die 2026 iPOP-talentsoektoer in Hollywood deel te neem.

“Ek is reeds hard aan die werk met my voorbereiding vir die kompetisie en hoop om my drome as ‘n sanger na te streef,” het hy gesê.

LEES OOK: Moorie revue another sell-out affair

LEES OOK: Hans Moore leerders tokkel deur eksamen

   

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Benoni City Times in Google News and Top Stories.

Jani de Beer

Jani went from working as a student intern for the Boksburg Advertiser to being employed as a junior journalist in 2004. Taking time out to start a family, she returned to the Caxton family in 2022 as senior journalist for the Benoni City Times. Her passion is telling her community's stories.

Related Articles

Back to top button