CrimeNews

Misdaad teen kinders en vroue vereis strenger optrede

Die kinderpornografie-netwerk wat onlangs oopgevlek is, onderskryf weereens die belangrikheid van ‘n goed funksionerende kinderbeskermingsregister (KBR).

Dit is volgens Amanda de Lange, die Vryheidsfront Plus se mediawoordvoerder in Gauteng.

Dit volg nadat verskeie mans, onder wie ‘n skoolhoof, aangekeer is vir die beweerde besit van kinderpornografie.

“Die KBR is ‘n openbare databasis wat die besonderhede van veroordeelde seksmisdadigers bevat met die doel om kinders te beskerm teen persone wat ingevolge ‘n hofuitspraak onbevoeg verklaar is om met kinders te werk of met hulle kontak te hê.

“Die departement van sosialeontwikkeling is veronderstel om die databasis gereeld op te dateer; dit is tans nie die geval nie en dit laat die deur oop vir uitbuiting en skep ruimte vir kinderpornografie-netwerke om ongehinderd voort te gaan,” sê De Lange.

Die Menseregtekommissie het aan die begin van die jaar ‘n ondersoek gedoen met betrekking tot die KBR, maar tot dusver is daar geen uitsluitsel oor die opdatering van die register nie.

“Die VF Plus wil ook ‘n ernstige beroep op Suid-Afrikaanse geestelike leiers en kerke doen om meer betrokke te raak by die voorkoming en beligting van seksuele vergrype in gemeenskappe,” sê De Lange.

Volgens haar, gaan die VF Plus daadwerklike stappe neem en vir strenger wetgewing en vonnisse rakende enige seksuele misdade teen vroue en kinders vra.

“Ons beoog om druk op die regering te plaas om aandag hieraan te gee en sal wil sien dat daar daadwerklike pogings aangewend word om die KBR op datum te bring, op ‘n volhoubare wyse,” sê sy.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button