Geloftediens weer in Boksurg op Versoeningsdag gehou
Die datum van 16 Desember 1838 word onthou ter herdenking van die Voortrekkers se oorwinning teen 10 000 Zoeloes tydens die Slag van Bloedrivier.

Reeds etlike dekades is dit die gebruik in Boksburg om op 16 Desember ’n Geloftediens te hou waar belangstellende lidmate van al die kerke in en om Boksburg welkom is om dit by te woon.
So kry die leraars van die verskillende Afrikaanse kerke om die beurt die geleentheid om die jaarlikse Geloftediens waar te neem.
Volgens Davie van der Merwe is goeie samewerking in hierdie verband nog altyd verkry en die ondersteuning van hierdie geleenthede deur die verskillende kerke se lidmate verblydend en die opkoms besonders goed.
“In die vroeë 1960s is daar met die aanbieding van die Geloftedienste afgeskop deur dit vroegoggend om 5vm te Prince George Park se sportterrein aan te bied,” sê van der Merwe.
“Vanaf 2001 toe die terrein nie meer vir hierdie doel beskikbaar was nie is die verrigtinge in die skoolsaal van Hoërskool Dr EG Jansen voortgesit.
“Vanaf 2004 word die Geloftediens jaarliks by die geskiedkundige NG Kerk Moedergemeente (Klipkerk) in Voortrekkerstraat aangebied.
“Vanjaar sal Dr Johan Pienaar van die NG Kerk Centurion die diens lei. Sy preektema is ‘God Is ‘n God Vir Alle Seisoene’.
“Daar gaan vooraf hartlik saamgesing word uit liedere wat in ’n gratis program ingebind is. ’n Kollekte sal na afloop van die erediens opgeneem word vir die Klipkerk Bewaringsfonds.
“Kom laat ons uitvoering gee aan die Gelofte wat deur ons voorouers afgelê is en dat ons dit aan ons kinders sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte.”
Vir meer besonderhede skakel Van der Merwe op 011 826 2716 of 082 488 3791.
Follow us:
For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Benoni City Times, Springs Advertiser, Brakpan Herald, African Reporter and Kathorus Mail.