Plaaslike jong skrywer stel nuwe werk vry
Hy het onlangs Donker-Woorde Gedig Bundel 1, Die realiteit van jou drome, Mystery World en Wishful Thinking self vrygestel. Verder spog hy ook met ?n nuwe Facebook-blad
Belowende digter en skrywer Blaine van Heerden is opgewonde om sy nuwe skryfwerk met die publiek te deel.
Van Heerden, wat bekend is vir die gedigte wat hy op sy Donker-Woorde Facebook-blad skryf, het aan die Advertiser verduidelik dat die inspirasie hom behoorlik beetgekry het tydens die inperking.
“Ek het by ‘n vriend op ‘n plaas in Bela-Bela gaan woon tydens die inperking toe ek nie kon werk nie. Die plek is besonders mooi. Ek het byvoordeeld ‘n idee gekry toe ons na ‘n sonsondergang gaan kyk het. Daarna het ek aan die idee gewerk tot ek tevrede was daarmee. Ek het daarin geslaag om onder andere drie boeke, gedigte en kortverhale te voltooi. My vriend het my natuurlik ook gehelp,” het die voltydse verkoopsman vertel.
Hy het onlangs Donker-Woorde Gedig Bundel 1, Die realiteit van jou drome, Mystery World en Wishful Thinking self vrygestel.
Verder spog hy ook met ‘n nuwe Facebook-blad.
LEES OOK:
Digter Barries van Boksburg deel graag sy talent
“My Donker-Woorde se Facebook-blad gaan steeds van krag tot krag. In Donker-Woorde Gedig Bundel 1 is gedigte wat nie op die blad te sien is nie. Ek het ek ook ‘n Engelse Facebook-blad, Minimalistic Words, begin om ‘n groter mark te bereik. Verder het ek ook aan heeltwat ander projekte gewerk.
“Ek het vier maande gelede Realiteit van jou drome begin skryf. Die boek gaan oor hoe jou drome en realiteit bymekaar uitkom, hoe die twee saamsmelt om jou die perfekte mense te maak. Mystery World is nou weer ‘n Engelse kunsboek. Dis ‘n leerboek met prentjies. Onderaan die prentjies is daar motiverende boodskappe wat by die prent aansluit. Dit is alles patrone vir jou om dinge beter te verstaan. Jy gaan na die boek kyk as jy sukkel om iets te verstaan.”
Wishful Thinking is een van Van Heerden se gunsteling boeke wat hy al geskryf het.
“Wishful Thinking is regtig ‘n diep boek. Dit trek jou siel uit, dit trek die lewe uit jou uit. Dit gaan nie oor snaakse dinge soos demone nie. Die boek gaan oor jou emosies, jou brein, jou gewete en dinge wat jou pla. Daar is nie noodwendig ‘n reguit storielyn nie, maar op die einde kom alles tot op ‘n punt.”
Die aspirant skrywer glo dat mense wat depressief is of deur ‘n traumatiese ervaring was sy boeke en gedigte sal waardeer.
“Ek hoop dat my skryfwerk mense sal help. Ek weet waarvan ek praat omdat ek self deur trauma gegaan het,” het hy verder gesê.
Van Heerden skryf ook nou liedjies vir sangers en hoop om die skryfkompetisie te wen waarvoor hy tans voorberei.
Volg sy skryfwerk op Facebook (donkerwoorde) en Facebook (minimalisticalwords).
LEES OOK:



