“Ons rou nog steeds en ons sukkel om antwoorde te kry.”
Só sê Liesele Stoop, ma van Sean Ferreira (24) wat verlede jaar op 30 April in Morgensterstraat, Freeway Park, doodgeskiet is nadat die gesin deur minstens twee gewapende rowers oorval is.
Liesele vertel dat sy en Sean vroeg die oggend by die huis aangekom het en die motor in die motorhuis wou parkeer toe sy skielik ‘n klop aan haar venster gehoor het.
“Toe ek opkyk, kyk ek in ‘n 9mm pistool vas. Die rower het aangedring dat ek hom in die huis laat, maar ek het geweier. My ander twee kinders Wouter (18) en Charné (9) was boonop in die huis. Wat kon hy nie alles aan my dogter gedoen het nie,” het sy gesê.
“Terwyl ons gespartel het om die motorhuis toe te hou, het die rower sy geweer op my gerig, waarna Sean besluit het om uit die motor te klim. Min het hulle geweet dat daar meer as een rower was. Terwyl Sean uit die motor uitgeklim het, het ‘n ander rower op hom losgebrand. Een van die twee koeëls het hom in die bolyf getref en hy is later deur paramedici op die toneel dood verklaar.
ALSO READ:
Young man gunned down in Freeway Park
“Dit was soos ‘n rolprent wat voor my afgespeel het. Alles het so vining gebeur. Ek het geen idee waar hulle vandaan gekom het nie. Dit was net ons in die straat. Nadat Sean geskiet is, het die ander rower steeds sy geweer op my gerig. Ek het toe gesê hy kan my skiet, want ek kon sien my kind is nie wel nie. Waarom hy nie geskiet het nie, weet ek tot vandag toe nie.
“Ek het hulle my motors aangebied, wat tog meer werd is as die besittings in my huis. Ek dink my seun het hulle verras. Die roof was meer op my en my jonger kinders gemik. My man werk in Afrika en is min by die huis. Ons het geen idee wie dit was nie. Ons alarm het wel ‘n paar dae voor die vooval begin afgaan. Sodra die sekuriteitsmaatskappy uitgekom het, kon hulle geen ongeruimdhede vind nie. Ek vermoed hulle het aan die motorhuis se deur gepeuter.”
Sy vertel dat die moeilikste ding vir haar was om te aanskou hoe Sean gesukkel het om asem te kry.
“Sean was my rots, my alles. Hy was ‘n rein seun en het nie eens gevloek nie. Daarom is dit vir my so hartseer dat hy op so ‘n wrede manier moes gaan. Ek het al gedink hoekom kon die rolle nie omgeruil gewees het nie. Ek het my lewe gehad. Hy was nog so jonk. Hy het pas gekwalifiseer as ‘n meganiese ingenieur,” vertel sy met trane in haar oë.
Liesele het intussen haar ou huis verruil vir ‘n woonplek in Sunward Park. Sy vertel dat dit geweldig moeilik is om voort te gaan met die lewe, veral omdat sy geen antwoorde van die polisie kry oor die moord op haar kind nie.
“Ek skakel hulle maar so een maal ‘n maand, maar dit blyk nie of daar enige vordering is nie. Hulle het my ook ingelig dat die dossier op ‘n stadium weg was. ‘n Ander speurder het ook blykbaar die saak oorgeneem. Hulle het aan my vertel die speurder wat oorspronklik die saak ondersoek het, siek is.
“Ek kon net nie meer in daardie huis bly nie. Die herinneringe is te pynlik. My hele lewe het verander. Ek is angstig en skrik vir elke geluid wat ek hoor. Ek sukkel om te slaap. Die gesin het ook sielkundige hulp ontvang. “My kinders vat dit baie swaar. My dogter het tydens die voorval in die huis geskuil en het dus alles gehoor. Sy is angstig en paniekerig en die maskers wat nou verpligtend is, maak haar ook senuweeagtig wanneer ons uitgaan.
“Mense moet op hulle hoede wees, want ons het nooit gedink dat dit met ons sal gebeur nie.”
Sy beklemtoon dat mens paraat moet wees tuis en in die openbaar. Sy bly bid dat geregtigheid sal geskied alhoewel dit nooit haar geliefde seun sal terugbring nie. “Miskien bring dit ‘n mate van vertroosting.”
Sy voel egter nie optimisties nie omdat geen vordering met die saak gemaak word nie. Sy bepeins steeds die motief van die aanval omdat sy haar motors aan die rowers aangebied het, maar hulle slegs toegang tot haar huis wou hê.
Volgens Konst Mashudu Mavhungu, waarnemende woordvoerder van die Boksburg SAPD, duur die ondersoek voort en is daar nog geen arrestasies gemaak nie.
“Ons is in kontak met die familie en probeer hulle help waar ons kan. Ons het ook aanbeveel dat hulle vir berading gaan,” het Mavhungu gesê.
Sy het bygevoeg dat die dossier veilig is.
Polisie vra die publiek om na vore te kom met inligting. Sers Thabo Makoneme en Sers Azwi Mphaphuli kan op 078 567 6453 gekontak word.
ALSO READ:
Seven-year-old girl shot dead in a robbery




