Local newsNews

Groot gees in die onderwys sterf

Die onderwyser word beskryf as ‘n groot gees in die onderwys, ‘n ware opvoeder, ‘n kollega van formaat, ‘n man van inbors wat 'n indruk laat op elke kind wat sy pad kruis.

Met die skielike heengaan van ‘n geliefde onderwyser en kollega, Neels van Schalkwyk (57), het daar saam met die hartseer, ongeloof en verslaentheid by Laerskool Concordia ‘n gees van liefde en omgee geheers.
Dit is eienskappe so kenmerkend van Van Schalkwyk

Die passievolle onderwyser is op 3 Mei by sy huis vermoedelik aan ‘n hartaanval oorlede.

Sy liefde vir sy medemens, sy wysheid en innerlike krag wat kind en volwassene uitgenooi het om sy raad en leiding te vra, het soos ‘n goue draad deur al sy vertellings geloop.

Dit is opvallend hoeveel leerlinge vertel het dat hul ouers ook by van Schalkwyk klas gekry het en hul groot hartseer oor sy heengaan uitgespreek het. Een van die Graad Ses leerlinge, Ashleigh Booysen, het gesê haar pa was ook ‘n oud-leerling wat met hartseer kennis geneem het van sy afsterwe.

Leerlinge het van vroegoggend af armsvol blomme voor hul geliefde onderwyser se klas geplaas.
Briefies is teen die deur en klasmure opgeplak.

Van Schalkwyk het in 1992 by Laerskool Concordia begin as onderwyser en is ‘n paar jaar bevorder na departementshoof.

Van Schalkwyk was lief vir rugby en het diep spore in die rugbywêreld as speler, afrigter en keurder getrap. Hy was jare lank betrokke by die Valke-rugby en Boksburg Rugbyklub.

Menige spanne het onder sy vlerk en met sy passie vir rugby as liga-wenners uit die stryd getree. Behalwe die rugby-vaardighede het hy sy waardes, sportmanskap en integriteit aan hierdie seuns oorgedra.

Hy was ook Concordia se sporthoof wat met sy liefde vir die kind, vir sport en vir sy skool, Concordia se grootste ondersteuner was.

Van Schalkwyk was vir kinders die vertroueling met wie hulle hul hartsgeheime sou deel.

Sy jarelange vriendinne, Joey en Liezel du Plessis, onthou hoe hy altyd gesê het hy is in die onderwys vir die kinders.

Skoolhou was sy lewe en dit het hom so ‘n geliefde onderwyser gemaak

‘n Assistent-onderwyser, Jason Stanton, vertel dat van Schalkwyk vir hom skoolgehou het en toe ook sy onderwys-mentor geword het.

“Sy humorsin was een van sy gewaardeerde eienskappe. Hy kon ure lank stories vertel en kinders aan sy lippe laat hang. Hy was baie lief vir die natuurlewe en was ‘n groot voëlkenner,” het Stanton vertel.

Een van van Schalkwyk se kollegas, Sanet Meiring, vertel hoe sy en van Schalkwyk 15 jaar lank by die leiersgroep betrokke was en menige veldskool saam met die leerlinge beleef het.

Nog ‘n kollega, Ilse van Loggerenberg, vertel hoe graag sy onderwysvraagstukke met hom bespreek het en hy dan met groot wysheid perspektief kon bring.

Charel Blignaut, hoof van Laerskool Concordia, het van Schalkwyk geloof vir sy wysheid, sy integriteit, sy eerlikheid, en sy vermoë om nie wrokke te dra nie.

Boksburg Rugby Klub president Lex Thorpe, het gesê: “Ek het Neels sien speel al vanaf 1983. He was by die Boksburg klub betrokke tussen 1988 tot 2000. Hy het nooit ‘n slegte woord van iemand gehad nie.
“Hy het saam met my vrou aan Hoërskool Brandwag in 1982 gematrikuleer.”

Lees Ook; Laerskool Concordia rou na oud-skoolhoof sterf

Lees Ook:  Onderwyseres van EG Jansen verloor stryd

   

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Boksburg Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button