Plaaslike matriekleerder in die wolke oor vlieënierslisensie
Oosterlig is trots op sy jong vlieënier, met sy kop letterlik in die wolke.
Op die ouderdom van 17 mag Thys Pienaar nog nie ’n motor sonder toesig bestuur nie, maar nou mag hy wel ’n solovlug doen.
Dié matriekleerder van Hoërskool Oosterlig het op 10 Mei sy privaatvlieënierslisensie (PPL) ontvang.
Die PPL is die basis waarop Thys verder kan bou vir die toekoms om agter die stuurstang van ’n Boeing of Airbus te kan inskuif. Met sy PPL mag Thys net in die dag vlieg. Hy mag nie na 15 minute na sononder in die lug wees nie. Thys mag ook nou passasiers vervoer, maar nie teen betaling nie.
Van kleintyd af was die aspirant-vlieënier gek oor vliegtuie. Sy inspirasie was sy pa, ook Thys, wat hom leer vlieg het met ’n Piper Cherokee 235.
Van daar af het sy belanstelling vlamgevat. Hy het toe by die Airborne Aviation-vliegskool aangesluit om sy lisensie te bekom.
“Vandat ek ’n kleuter was het ek met vliegtuie gespeel en saam met my pa gevlieg. My eerste vlug was nie eers vir my so angswekkend nie. Dit het vir my half natuurlik gekom. Ek het seker nou al so 45.7 ure gevlieg,” het die Freeway Park-inwoner gesê.
Op Thys se 16de verjaarsdag, op 1 September 2019, het hy vir die eerste keer solo gevlieg.
“Ek het dit glad nie verwag om nou al my PPL te kry nie en kon dit skaars glo to my instrukteur my inlig dat ek geslaag het. Dit was harde werk, maar ek is opgewonde omdat ek my lisensie geslaag het,” het hy bygevoeg.
Thys moes eksamen in agt vakke aflê, sy vliegure opbou, wat twee “cross-countries” saam met sy instrukteur en twee solo “cross-countries” ingesluit het.
“Die vlieg gedeelte was vir my maklik, maar die eksamens was nie kinderspeletjies nie. Ek hou van vlieg omdat die tonele wat ek uit die vliegtuig uit sien so mooi is. Ek het een keer so tussen die wolke gevlieg en dit was vir my lekker,” het Thys vertel.
Sy volgende stap is om akkreditasies vir nagvlug en instrumente vlug te behaal. Daarna wil hy aansoek doen vir ’n kommersiële lisensie, waarvoor hy minstens 200 vliegure nodig het.
Thys droom daarvan om eendag ’n beroepsvlieënier te word.
“Ek wil in die toekoms graag internasionaal vlieg.”
Eienaar van Airborne Aviation Sam Berriman het vertel Thys se prestasie is merkwaardig omdat nie baie mense op sy ouderdom ’n PPL kry.
“Thys is een van ons top-studente en hy het baie goed gevaar,” het die eienaar gesê.
Sy ma, Lucy, is ook trots op haar seun se prestasie.
“Thys was nog altyd avontuurlustig. Hy hou ook daarvan om dinge te doen soos valskerm spring en motocross.”
Also Read: The sky is the limit for young female pilot
Also Read: SA’s most stressful jobs revealed; pilots ‘fly’ the way



