Kry jou tuisgemaakte maaltye en lekkernye in Van Dyk Park
Kom ons #ONDERSTEUNBOKSBURG #ONDERSTEUNTUISGEMAAK #ONDERSTEUNHANDGEMAAK #CAXTONCARES
Jaques Venter van Van Dyk Park het nie agteroor gesit toe hy by sy werk afgelê is nie en het sy eie mikro-onderneming, JSV Meals & Treats, begin.
In hierdie week se uitgawe van die Advertiser se Tuisgemaak Handgemaak het ons met Venter gaan gesels om meer uit te vind oor hom en sy besigheid.
Venter is ’n sjef wat al vir 20 jaar in die bedryf is. Hy het JSV Meals & Treats gestig nadat hy in 2018 by ’n hotel in Nelspruit afgelê is.
“Die besigheid het goed gedoen, maar verlede jaar het Covid-19 my ook hard getref. Ek moes toe na Boksburg verhuis en het by my suster ingetrek. Ek het die kombuis daar vir my ingerig en ek behartig nou my onderneming van daar.
“Die pandemie het die toerismebedryf op sy knieë, so daar is nou beperkte poste beskikbaar en alles word dadelik opgeraap. Dit gaan nou broekskeur met my besigheid, maar ek hoop dit sal binnekort optel,” het hy gesê.
JSV Meals & Treats verkoop onder andere kos en lekkernye soos koek, troukoek, soet-en-sout platters, beskuit, ontbyt en middagetes vir klein byeenkomste, tuisgemaakte maaltye vir individuele mense, families of klein funksies en gevriesde maaltye.
“Alles is vars en tuisgemaak. Ons is nie beperk tot hierdie dienste nie en ons lewer ook af,” het hy gesê.
Venter het verduidelik dat hy al van kindsbeen af ’n passie gehad het vir kosmaak.
“Dit is in my bloed. My pa is ook ’n sjef.”

Vir meer inligting, besoek jsvmealstreats.co.za of kontak Venter by 076 141 3086.
Het jy ’n mikro-onderneming wat tuisgemaakte of handgemaakte items verkoop? Sukkel jy om die woord oor jou produkte daar buite te kry? Dan het ons net die oplossing vir jou.
Ons nooi julle uit om van hierdie geleentheid gebruik te maak om jou tuisgemaakte of handgemaakte items ten toon te stel.
Die enigste kriteria wat sal geld is dat jou produkte streng tuisgebaseer is en die produkte moet tuisgemaak of handgemaak wees.
Ons is op soek na Oom Frik en sy Biltong Paleis, Tania se Gehekelde Knuffelmaats, Thabo en sy Shisa Nyama Stalletjie, Sally se Unieke Sandale, Herschelle se Heerlike Nagereg of VJ se Samoesa Hoekie.
Al wat jy moet doen is om jou naam, van en kontaknommer, e-posadres, beskrywing en ’n foto van jou produkte asook ’n Facebook-skakel of webblad-skakel na immaculatem@caxton.co.za te stuur. Ons sal die res doen.
Lees Ook: Youngster’s handmade kotas are a vibe
Lees Ook: Tell us for free about your home-made or handmade goods



