#tuisgemaak: Hekelwerk bring ekstra inkomste
Kom ons #ONDERSTEUNBOKSBURG #ONDERSTEUNTUISGEMAAK #ONDERSTEUNHANDGEMAAK.
In hierdie week se uitgawe van die Advertiser se handgemaak tuisgemaak het ons by Boksburg-Noord se Rina Uys gaan inloer om meer uit te vind oor haar mikro-onderneming, Rina’s Handcrafts.
Uys het Rina’s Handcrafts ongeveer drie maande terug begin om te help om die pot aan die kook te hou nadat haar kinders hul werk verloor het weens Covid-19.
Sy verkoop items soos gehekelde vloermatjies van haar huis af vir ’n ekstra inkomste, wat haar ook help om haar kinders te ondersteun.
Die pensioenaris het op die ouderdom van 10 by haar ouma leer hekel en naaldwerk doen. Sy het besluit om die mikro-onderneming te stig toe haar skoonsuster stukke materiaal gebring het en vir haar gesê het om gehekelde vloermatjies te verkoop.
“Die besigheid is nog in sy beginstadium, maar die navraag lyk goed,” het sy gesê.
Het jy ’n mikro-onderneming wat tuisgemaakte of handgemaakte items verkoop? Sukkel jy om die woord oor jou produkte daar buite te kry? Dan het ons net die oplossing vir jou.
Ons besef dat talle mense deur die pandemie geraak is. Sommige mense het hul werk verloor en begin (of het al begin) om by die huis te bak of juwele te maak om kop bo water te hou.
Hierdie is die mense na wie ons uitreik en ’n helpende hand voor wil gee.
Boksburg Advertiser wil jou graag die geleentheid gee om jou mikro-onderneming gratis op ons aanlynplatform te lys.
Ons nooi julle uit om van hierdie geleentheid gebruik te maak om jou tuisgemaakte of handgemaakte items ten toon te stel.
Die enigste kriteria wat sal geld is dat jou produkte streng tuisgebaseer is en die produkte moet tuisgemaak of handgemaak wees.
Ons is op soek na Oom Frik en sy Biltong Paleis, Tania se Gehekelde Knuffelmaats, Thabo en sy Shisa Nyama Stalletjie, Sally se Unieke Sandale, Herschelle se Heerlike Nagereg of VJ se Samoesa Hoekie.
Al wat jy moet doen is om jou naam, van en kontaknommer, e-posadres, beskrywing en ’n foto van jou produkte asook ’n Facebook-skakel of webblad-skakel na immaculatem@caxton.co.za te stuur. Ons sal die res doen.
Lees Ook: Louine blom agter die verfkwas
Lees Ook: #homemade: Sisanda dishes up a feast



