Kinders geniet Kerspartytjie
Vele ouers het hul werke verloor as gevolg van die pandemie en kan nie meer vir hulle kinders geskenke koop.
Talle kinderharte was verbly tydens Bethlehem Huis van Brood se Kersfunksie, Kersboom vir die Gemeenskap, te Van Dyk Park Winkelsentrum op 11 Desember.
Volgens die organiseerder, Ansa Mostert, hoof van Bethlehem Huis, was die funksie ’n sukses.
“Vele ouers het hul werke verloor as gevolg van die pandemie en kan nie meer vir hulle kinders ’n Kersgeskenk koop nie.
“Daarom het Bethlehem Huis weer ingespring om die feesseisoen helderder te maak deur elke kind te oorweldig met ’n warmbrak, springmielies, roomys, kolwyntjies en lekkergoed pakkies en geskenke.
“Ten spyte van die reën het die funksie voortgegaan. Die kinders het elke oomblik geniet deur hul gesiggies te laat verf en aan watersport en springsakkompetisies deel te neem. Vier-honderd-en-vyftig mense het die dag saam met ons spandeer. Selfs die ouers het dit geniet,” het Mostert verduidelik.
Nog ’n hoogtepunt van die geleentheid was toe Kersvader ’n draai kom maak het. Sanger Franco van Zyl het ook gaste vermaak. Alle Covid-regulasies is nagekom.
Die organiseerders het hul dank uitgespreek teenoor almal wat bygedra het tot die sukses van die geleentheid.
“Ons bedank graag die dames van die Van Dyk Park Aftee-Oord (Sue Opperman, Tine van der Westhuizen, Sue Ungerer, Elsie Els, Hettie van Tonder and Kattie Terblanche), Helene Joubert en gesin, Koos Gouws en sy bedieningspan, kunstenaars en DJ, Savanah Spur, Makopano Risk Solutions, A’s Café vir die reël van Kersvader met brandweerwa. ’n Spesiale dankie aan die span van Bethlehem Huis wat hul alles gegee het deur die jaar.”
Bethlehem Huis, ’n nie-winsgewende organisasie gestig deur Mostert se oorlede man, past Barend Botes, voer talle behoeftiges. Mostert is vasbeslote om Botes se werk in die gemeenskap voort te sit deur voort te gaan met die organisasie.
Skenkings soos plastieksakkies, groente en vrugte sal waardeer word.
Sou jy ’n bydrae kan maak, skakel vir Mostert by 082 537 0564.
LEES OOK: Kinders baat by Helpende Hand se skoenprojek
LEES OOK: Behoeftige kinders baat by Paaseierprojek








