Helpende Hand Boksburg benodig nog skryfbehoeftes vir projek
Solidariteit Helpende Hand Boksburg-tak, ’n nie-winsgewende organisasie, vra weer die gemeenskap se hulp om 'n sukses van sy skryfbehoefte-projek te maak.
Die organisasie het die behoefte aan skryfbehoeftes geïdentifiseer onder minder-bevoorregte Graad Twee tot Graad 12 leerders.
Die Boksburg-tak het besluit om ’n projek van stapel te stuur om ook aan hulle behoeftes te voorsien en leerders so te bemagtig om hul skooljaar op dieselfde vlak te kan begin as hul mede-skoliere.
“Hierdie is ’n projek wat ons tak reeds vir die afgelope sewe jaar hardloop,” het André Zeelie, voorsitter van die Boksburg-tak, gesê.
“Dit beteken dat ons met die begin van elke kwartaal donasies benodig om hierdie leerders te kan voorsien van ’n skryfbehoeftepakket.
“Ons is totaal en al afhanklik van die gemeenskap se ondersteuning om ’n sukses van elk van ons projekte te maak.”
Zeelie het ook sy dank uitgespreek aan almal wat die projek al in die verlede ondersteun het.
“Danksy die gemeenskap se betrokkenheid, belangstelling en ondersteuning was die projek verlede jaar ‘n groot sukses en was ons in staat om 55 skryfbehoefte-pakette op te maak wat onder behoeftige leerlinge uitgedeel is. Ons hoop om hierdie jaar daarop te verbeter en mik nou na 70 pakette,” het hy bygevoeg.
Die publiek kan skenkings maak in die vorm van bruikbare skryfbehoeftes soos potlode en hardebandboeke (nuut of tweedehands). Die organisasie sal ook ‘n finansiële bydrae waardeer aangesien die fondse gebruik gaan word vir die aankoop van skryfbehoeftes.
Enige donasies in die vorm van linne, klerasie, meubels, kombuisware, speelgoed, en skoene word ook verwelkom.
Vir meer inligting, kontak Zeelie by 060 550 6077.
Lees Ook: Helpende Hand Boksburg se tassie-projek weer ‘n sukses
Lees Ook: Helpende hand het die publiek se hulp nodig



