Local newsNews

Sunward Park-inwoner versamel speelgoed by die duisende

Met ’n indrukwekkende versameling van speelgoed, karretjies, Smurfs en superhelde wat nou al duisende sterk staan, is dié huis in Sunward Park enige kind, of selfs ’n volwassene, se droom.

Superhelde, speelgoed uit die 80s, 4 000 Smurfs, lewensgrootte standbeelde, ’n getekende draaiboek van die fliek Jaws en Dinky-speelgoed is maar van die enkele skatte wat in Oom Tiny, soos hy bekend staan, se versameling van ongeveer 30 jaar pryk.

Hy het ook ’n rare plakkaat van ’n Al Pacino fliek wat deur meeste van die akteurs geteken is.

“Ek het begin versamel toe ek so 17, 18 was. Ek het ek gegaan na Oom Gordan se Old Cars Shop en items soos ou Matchbox-karretjies gekry. Ek het weereens nie geld gehad nie. Hy het toegelaat dat ek in die winkel werk en uithelp.

“Dit laat my ontspan en is vir my ’n ontvlugting. Dit vat die lelik uit my lewe uit en bring vreugde vir ander. Wat is mooier as ’n speelding,” het hy gesê.

Oom Tiny het verduidelik dat hy nooit sy eerste speelding, ’n Hulk-speelgoedmannetjie, uit die pakkie wou haal nie.

“Ons het ’n bietjie arm grootgeword, so om ’n speelding te kry was ongelooflik. My pa het nie daarvan gehou dat ek hom nie uit die pakkie wou haal nie. Hy het gevoel dat hy dit vir my gekoop het en dat ek daarmee moet speel. Dit was vir my soos ’n kunswerk,” het hy verduidelik.

Ten spyte van al die versamelstukke, weet Oom Tiny steeds presies wat aangaan.

Wat staan vir hom uit in sy versameling?

“Dit gaan nie vir my oor die geldelike waarde van die stuk nie, maar oor die liefde en mooi daarvan. My Batman tin toy-karretjie en Herbie-karretjie is vir my belangrik, dinge wat my vrou en kinders spesiaal vir my uitgesoek het. Vir hulle is dit niks, maar vir my is dit waardevol.

“Ek hou ook van die geskiedenis van die versamelstuk,” het hy verduidelik.

Hy spandeer ook baie tyd om speelgoed te restoureer en het ook sy verbeelding gebruik om sy eie speelding te ontwerp met hulp van sy vriendin, Judy Strachan.

Die versamelaar het gesê dat hy nooit sal ophou versamel nie en dat hy daarvan droom om eendag ’n museum te begin.

Also Read: KYK VIDEO: Dwergies, paddas en tot twee boemelaars – alles in een tuin

Also Read: Kry ‘n eeu van Boksburg se geskiedenis op jou boekrak

   

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Boksburg Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button