Voormalige plaaslike departementshoof ontvang doktorsgraad
“Dit is nooit te laat om te begin nie.”
“Dit is die woorde van Marlene Flemming, ‘n oud- Afrikaanse departementshoof van Hoërskool Dr EG Jansen wat onlangs haar PhD in Penologie aan die Universiteit van Suid-Afrika geslaag het.
Dié bekwame voormalige onderwyseres, wie in haar sestigtes is, het in 2020 na 41 jaar in die onderwys besluit om die rooipen opsy te skuif om haarself op verdere studies toe te spits.
Marlene het voorheen verduidelik die studierigting behels onder meer die waarde van straf in sekondêre skole in Suid-Afrika.
Volgens Marlene voel sy goed oor haar prestasie.
“Dit is altyd lekker as ‘n mens iets kan klaarmaak waarmee jy begin het. Alhoewel dié Phd in strafreg is, sluit dit goed aan by my onderwysloopbaan, veral wat betref straf en dissiplinêre maatreëls en as dit kom by die toepassing daarvan in skoolverband.
“Dit was ‘n uitdagende en opwindende alleen reis van drie jaar, maar tog bied dit ‘n andersoortige bevrediging aan ‘n mens se siel. My studieleier, prof Charl Cilliers, was my inspirasie en altyd positief. Hy het hierdie ervaring die moeite werd gemaak,” het sy vertel.
Sy het bygevoeg die lekkerste deel van die hele proses was elke keer wanneer ‘n hoofstuk klaar was sodat dit ingehandig kon word.
“Ook om soveel van al die skole- en jeugwette te wete te kom en ‘n bydrae te kon lewer tot die vertolking en implementering daarvan. Die heel lekkerste was toe ek die slothoofstuk kon skryf,” het sy bygevoeg.
Daar was ook baie uitdagings wat Marlene moes oorbrug
“Die tegnologiese hekkies gedurende die Covidtydperk was dalk die grootste uitdaging. Verder ook die alleenheid – ‘n mens raak later moeg vir jou eie geselskap. Die passiwiteit en geïsoleerdheid wat die Covidregulasies meegebring het, was ook soms frustrerend.”
Dié top voormalige onderwyseres het sak en pak opgepak en saam met haar wederhelf, Herman, permanent na KwaZulu-Natal verhuis.
In die toekoms gaan Marlene betrokke wees by skole en onderwysagentskappe rakende straf-en dissiplinêre aangeleenthede asook akademiese betrokkenheid op tersiêre vlak.
Sy wil ook tyd spandeer aan snorkel, kajak, gholf en muurbal.
Haar raad aan voornemende doktorsgraadstudente: “Jy moet dit rêrig wil doen en bereid wees om opofferings te maak. Stel vir jouself ‘n realistiese werksprogram op en hou te alle tye daarby. Druk deur, maak nie saak wat nie. Die beloning is stroopsoet!”
Lees Ook: Marlene verlaat die onderwys na 41 jaar om doktorsgraad te voltooi
Lees Ook: Jansen personeel vereer vir uitmuntige prestasies



