Local newsNews

Helpende Hand Boksburg het jou hulp nodig

Solidariteit Helpende Hand Boksburg moedig steeds die publiek aan om hul Jockeys en Sokkies-projek te ondersteun.

Met dié projek poog die plaaslike Helpende Hand-tak om vir minderbevoorregte kinders kouse en onderklere in te samel.

“Die idee vir hierdie projek het gekom na ons ’n Kerspartytjie vir minderbevoorregte kinders gehou het. Die ouers moes vir ons ’n wenslys stuur van watter geskenk hul wil hê by die partytjie.

“Dit was vir ons skokkend om te sien hoeveel ouers gevra het vir onderklere en kouse in plaas van speelgoed. Ons het toe besef daar is ’n groot nood onder behoeftige gesinne vir onderklere en kouse vir kinders,” het Amanda Zeelie van Helpende Hand Boksburg voorheen verduidelik.

Volgens Zeelie sal elke skenking ten bate van die projek opreg waardeer word.

“Lede van die publiek kan onderklere en kouse vir seuns en meisies skenk. Ons samel die items vir kinders van voorskool tot matriek in. Dit kan ook tweedehands wees indien dit in ’n baie goeie toestand is,” het Zeelie bygevoeg.

Sy het almal bedank wat reeds donasies gemaak het aan die organisasie.

Die publiek word ook aangemoedig om die organisasie se liefdadigheidswinkel, Ons Winkel, te Mainstraat 49, Witfield, te ondersteun.

Daar is nuwe voorraad by die winkel.

Lede van die gemeenskap kan ook items skenk vir die winkel. Winteritems soos beddegoed en komberse sal veral waardeer word.

Die winkel stel Helpende Hand in staat om maatskaplike hulp aan die gemeenskap te lewer, werksgeleenthede te skep en studiefondse te voorsien aan behoeftige studente wat wil studeer, maar nie oor die finansies beskik nie.

Ons Winkel se deure is oop van 10:00 tot 16:00 op weeksdae en van 10:00 tot 13:00 op Saterdae. Vir meer inligting, kontak André Zeelie (voorsitter) by 060 550 6077.

Lees Ook: Ondersteun Boksburg Helpende Hand se Ons Winkel

Lees Ook: Helpende Hand Boksburg se tassie-projek weer ‘n sukses

   

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Boksburg Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button