AfriForum knap steeds die stad op
“Ons sal self ons dorpe onderhou as die verantwoordelike partye dit nie doen nie.”
Die AfriForum-tak Benoni het weer gewoeker in en om die stad gedurende Junie om verskeie dele skoon the maak asook om noodsaaklike slaggate te vul.
Die onderskeidelike projekte vorm deel van die organisasie se #OnsDorp-projek.
Volgens Achilles Mouyis, voorsitter van die Benoni-tak, is selfdoenaksies aangepak en die gras op verskeie sypaadjies, insluitend Stanleyweg, Negendestraat, die hoeke van Benoni- en Bodenweg, Great Northweg en Highweg is gesny.
“Opruimingsprojekte is ook tussen Princes- en Ampthilllane onderneem,” sê Mouyis.
“Laastens het ons slaggate in Northmead gevul.”
Altesaam 24 slaggate, wat baie ongerief aan motoriste veroorsaak het, is met 17 sakkies teer gevul.
“Die #OnsDorp-veldtog is van stapel gestuur om ons dorpe en woongebiede op te knap. Met dié projek stuur ons ’n boodskap dat ons verantwoordelikheid neem vir ons gemeenskappe,” sê Petrus Coetzee, distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.
Benoni inwoners en sakelui word genooi om deel te vorm van die tak se werksaamhede.
Vir meer inligting SMS “Benoni” na 45340 of stuur ‘n e-pos na benoni@afriforumtak.co.za.
Also Read: AfriForum Boksburg spog met nuwe bestuur
Also Read: AfriForum deel geskenke uit




